Update
MOSSELBAAI NUUS - "Ek onthou Nico se laaste woorde aan my; 'Sit jou radio se volume 'n bietjie harder'".
Kobus Crous, die gesoute en altyd gewillige helikoptervlieënier, eienaar van Mossel Bay Helicopters was een van twee vlieëniers wat teen die verswelgende brande in die Vermaaklikheid-area naby Riversdal geveg het toe Nico Heyns, die ander vlieënier en Kobus vriend van 36 jaar, sy lewe verloor het in 'n helikopter-vliegongeluk.
"Ek kan nie 'n dowe oor gooi as daar mense in nood is nie."
Soos telkemale tevore, was dit die wekroep wat Kobus vandeesweek weer genoop om met sy helikopter lugsteun aan die grondspanne van onder meer die brandbestryders van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, asook die Hessequa- en George-munisipaliteite en die Suid-Kaapse brandbeskermingsvereniging van die Tuinroete te gee.
Nico het vir die Working on Fire-span 'n reusetaak verrig in die bestryding van die brand wat teen druktyd steeds gewoed het.
Heyns, wat trouens Kobus sowat 36 jaar gelede opgelei het in die kuns van vastevlerkvlieg, het omgekom toe die helikopter wat hy gevlieg het, by Oshoek, Vermaaklikheid geval het. Kobus sê daar steek geen waarheid in gerugte dat Heyns "beheer oor die helikopter verloor het nie".
Wyle Nico Heyns. Foto: Pauline Lourens
"Ons was deurentyd in kommunikasie. Ons het dieselfde vlieglyn gebruik en by dieselfde plek water geskep.
"Daar was geen spotter-vliegtuie nie, ons moes dus deurentyd praat om te weet waar die ander een is, en om advies aan die grondspanne te gee.
"Net voor die ongeluk was ek en Deon van Wyk van die Garden Route-distriksmunisipaliteit besig met 'n verkenningsvlug.
"Ons het juis na 'n gevaarlike area gekyk waar ons gevrees het die brand oor 'n pad sou spring - wat toe ook ná die helikopterongeluk gebeur het.
"Ek was net weer op die grond om die bambisak te koppel en brandstof vir die helikopter in te neem toe ek oor die radio hoor dat 'n chopper geval het.
"Ek is onmiddellik na die toneel waar grondspanne reeds besig was om hulp te verleen. Vanuit die lug het dit uit die wrakstukke wat oor 'n area gelê het, voorgekom asof daar probleme met die helikopter was voordat dit neergestort het."
Gemeenskappe, onder meer Mosselbaaiers het ruim bygedra tot verversings en noodhulpvoorraad vir die brandbestryders.
Geen kansvatter
Kobus beskryf Nico as 'n vlieënier wat nooit kanse gevat het nie. "Hy was 'n uiters versigtige vlieënier, hy het 'n passie vir vlieg gehad.
"Ek het met sy kinders gepraat, hulle hanteer die tragiese gebeure sover baie goed. Nico was 'n man wat sy hele lewe aan die lugvaart gewei het. Ek was Nico se tweede of derde student in vastevlerk by die vliegskool wat hy op Mosselbaai bedryf het voordat hy na Knysna verhuis het.
"Daar het hy vir sy vliegkuns gelewe; die helikopter was voor sy huis geparkeer. Ek het gewoonlik by hom aangedoen om brandstof aan te vul by sy depot."
Uitsonderlike warm en winderige toestande het die brandbestryders se taak sedert Sondag, 21 Oktober bemoeilik. Volgens voorspellers sal die warm weerstoestande tot na die naweek voortduur.
Talle huise en ander eiendomme is verwoes. Sewe huise in die Vermaaklikheid/Puntjie-omgewing is aanvanklik deur die brand vernietig en ná die helikopterongeluk het nóg twee huise het sedertdien in die slag gebly.
Vanuit die kajuit van Kobus Crous se helikopter kon brandbestryders 'n behoorlike bestekopname maak van die vuurlyn, die risikos en daarvolgens hul strategie teen die brand bepaal.
Hierbenewens is sowat 15 000 hektaar, weiding, infrastruktuur en vee vernietig.
Na wat verneem word, het 'n Oryx-helikopter en spottertuig uiteindelik teen Woensdag by die span brandbestryders aangesluit.
Intussen stroom verversings en noodhulpvoorrade in wat deur verskeie instansies, ook op Mosselbaai ingesamel word.
Die oorsaak van die brand word ondersoek.
Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters word gereeld gevra om lugsteun aan grondspanne te gee wanneer groot brande in die groter Suid-Kaap lewens en eiendomme bedreig. Foto's: Mossel Bay Helicopters
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'