Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - CAT Tuinroete is 'n welsynsorganisasie wat verlede jaar meer as 1 000 katte laat steriliseer het.
Die katte word gevang, gesteriliseer en dan weer vrygelaat om wildekat-kolonies te stabiliseer.
Volgens die stigter van CAT, Rita Brock, is hongerte, siektes, en wreedheid die gevolg van te veel babakatte en -hondjies wat gebore word. Die enigste manier om te verhoed dat die diere swaarkry en mishandel word, is sterilisasie.
Een van die vier vroue wat die kern vorm van die CAT Team, is Sonja Stander wat in die Groot-Brakrivier omgewing bly en self na heelwat katte omsien. Mossel Bay Advertiser het by haar aan huis gaan kuier voordat sy van die katte na die Strandloper dierekliniek geneem het vir inentings. Sonja vertel dat hulle die katte laat steriliseer en behandel, maar ook seker maak dat hulle gesond is voor ons hulle terugplaas.
"Ons doen nie net die mammakatte nie, maar steriliseer ook die kleintjies, omdat 'n kat van drie tot vier maande kan swanger raak en in haar leeftyd sowat 40 babas kan hê. Dit vat 'n tydjie om die katte te rehabiliteer en hulle word daarna beskikbaar gestel vir aanneming. Die voordeel is dat ek die katte se persoonlikhede leer ken en mense kan adviseer watter tipe kat by hulle en die huisgesin sal pas."
Strandloper Dierekliniek
Die aannemingskoste ('n minimale fooi) wat CAT vra, is om die sterilisasie, een of twee inentings en die katte se mediese onkostes te dek. Ons doen 'n beroep op die publiek om ons te kontak as daar wilde (feral) katte is. Moet hulle asseblief nie doodmaak nie, want dan kom daar net meer na die gebied toe. Ons help ook mense in armer gemeenskappe wat dit nie kan bekostig om hulle katte te steriliseer nie.
Dr Stelois Lourens verduidelik die grootste wanpersepsie wat daar bestaan oor feral kolonies, is dat mense dink hulle moet dit uitwis. Maar sy sê hoe meer jy uitwis, hoe meer gaan daar ander katte inkom. Beheer eerder die kolonie wat jy het deur die katte te laat steriliseer en die aanwas te verminder.
Dr Stelois is baie dankbaar vir die werk wat CAT doen. 70% van mense is nie katliefhebbers nie en sonder organisasies soos CAT, sou hierdie katte mishandel word en onversorgd bly. Ondersteun hulle asseblief sover moontlik.
Veilige hawe
Sonja vertel dat baie katte nie aangeneem word nie en dan hou sy hulle.
"Ek kan nie 'n kat laat uitsit nie. Ek is baie lief vir katte. Die meeste mense verstaan hulle nie en verkies honde. Maar as jy 'n kat streel en teen jou vashou, help dit baie om 'n mens te kalmeer en rustig te maak. Sy tel 'n groterige gemmerkat op en vryf hom liefdevol. Hierdie is Gingi. Hy is seker nou so vier jaar by my. Honde het hom verskeur en hy is vir dood agtergelaat. Maar in sy oë kon ek sien hy wou lewe. En kyk hoe 'n pragtige kat is hy nou. Moet nooit opgee op 'n kat as jy sy lewe kan red nie."
Enige donasies aan CAT kan gemaak word by C.A.T. Trust, FNB Acc Nr: 62615670800. Produkte wat vlooie en wurms behandel en katkos kan by Strandloper in Hartenbos afgelaai word. Die webwerf is www.catgardenroute.co.za of kontak hulle by 072 172 2726.
VIDEO - Dr Stelois Lourens, veearts by die Strandloper dierekliniek in Hartenbos.
VIDEO - Dr Stelouis Lourens van die Strandloper Dierekliniek in Hartenbos help CAT om die katte te versorg.
VIDEO - Sonja Stander, 'n lid van CAT welsynsorganisasie praat oor haar passie vir katte en hul versorging.
VIDEO - Sonja Stander van Groot -Brakrivier het 'n passie vir katte, hul gesondheid en versorging.
VIDEO - Dr Stelouis Lourens van die Strandloper Dierekliniek in Hartenbos help CAT om die katte te versorg.
Een van die katjies word geweeg tydens die veeartsbesoek aan die Strandloper Dierekliniek in Hartenbos.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'