MOSSELBAAI NUUS - Twee vroue van Danabaai, knap onder die 85 jaar oud, het eendag op die strand ontmoet. Danksy, onder andere die honde wat die dag saam met hulle gestap het, het hulle boesemvriendinne geword. Tydens hulle eerste gesprek, vind hulle toe boonop uit dat hulle in dieselfde omgewing grootgeword het, alhoewel die een 'n gebore Suid-Afrikaner is en die ander, as 'n Hollandse vlugteling ná die Tweede Wêreldoorlog die land binnegekom het.
Vandag, deel hulle 'n nuwe band, danksy die boek wat hulle saam die lig laat sien het.
Hierin, het Rennie Coetzee (84), haar vriendin *Drien se wederervaringe as 'n oorlogskind, soos sy dit aan haar oorvertel het, neergeskryf.
Drien, is in Naarden sowat 40km uit Amsterdam gebore. Sy het in 1949 saam met haar ma en haar broer, sewe maande na haar pa se aankoms, in Suid-Afrika aangeland. Haar pa het voorheen 'n roomysfabriek in Holland bedryf, maar het dit tydens die oorlog verloor. Toe moontlikhede in Suid-Afrika wink, het hy hier kom werk soek. Hy het egter gou 'n bloutjie geloop wat hom vir 'n tyd haweloos gelaat het. Uiteindelik het die gesin in Welkom gevestig, waar haar pa, 'n kranige skrynwerker, die eerste blokkiesvloere in huise op die dorp ingesit het.
Haar pa was in die ondergrondse versetbeweging. Drien sê hulle het die Duitsers Holland sien binnekom destyds en geweet dat die oorlog op pad is. Sy onthou duidelik hoe die Jode spesiale klere moes dra en het gesien hoe hulle deur die Nazi's per trein weggeneem is. Ook hoe die vegvliegtuie oor Amsterdam gevlieg het, in die tye wat sy by haar tante tuisgegaan het. Sy het die Zeppelin oor Amsterdam sien seil en vertel hoe verskriklik dit was toe Rotterdam vroeg in 1940 platgeskiet is. Haar gedagtes oor haar wedervaringe noem sy een na die ander op.
Sy het nooit konstrukrief hieraan aandag gegee nie, totdat Rennie haar sover gekry het om weekliks op 'n Woensdag te kom sit en vertel sodat hulle alles te boek kon stel.
Rennie, wat nou al drie boeke geskryf het, het glo eers in haar tagtigste jaar die pen opgeneem. Hoekom? "Om die ouderdom om te kry," lag sy. Maar dit blyk asof die skrywersink maar in haar are loop. Haar oupa was 'n kommandant in die Anglo-Boereoorlog en het sy wedervaringe in dagboekvorm genoteer. Sy is besig om dit weer saam te stel en wil dit laat herdruk.
Die twee vroue gesels guitig en trek gereeld tydens die gesprek mekaar se siele uit. Hoe behou hulle die jeugdigheid hulle ouderdom ten spyt.
"Werk. Harde werk," sê Drien. "In hierdie land moet jy werk. Ek wonder tot vandag hoe my ma dit uitgehou het. Toe ons in die Vrystaat gekom het, was daar niks. Net sand en mielies." Drien het jarelank in die klerebedryf gewerk en nog nooit van 'n huishulp gebruik gemaak nie.
Rennie se geheim is om besig te bly. Behalwe vir die skryfwerk, is sy voortdurend besig met handwerk. Tans werk sy aan 'n nuwe projek, 'n hele rits gedigte oor elke letter van die alfabet. "Tot X vir X-strale," glimlag sy.
*Drien - Skuilnaam
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'