MOSSELBAAI NUUS - Nagenoeg 150 rolspelers van al die uithoeke in die Wes-Kaap het onlangs bymekaargekom om 'n daadwerklike poging aan te wend om armoede in die provinsie te verlig, te verbreek en te voorkom.
Altesaam nege takke van Solidariteit Helpende Hand en verteenwoordigers van sewe van Helpende Hand se Ons Winkel-skenkingswinkels regoor die provinsie het in Maart na Stellenbosch gereis vir Helpende Hand se eerste streekskongres. Mosselbaai-lede was ook verteenwoordig tydens hierdie geleentheid.
Die tema van die kongres was #INKRAG en verskeie sprekers het kongresgangers met die nodige kennis toegerus om van Helpende Hand se vele projekte in Mosselbaai voort te sit of uit te brei.
"Van Oudtshoorn tot Vredendal, regdeur en alle dorpe tussenin, was verteenwoordig. Hierdie was die eerste kongres wat Helpende Hand in die Wes-Kaap aangebied het om die wyer publiek in te lig oor Helpende Hand en ook om ons takke en vrywilligers toe te rus oor verskeie aspekte rondom armoede voorkoming, verligting en verbreking," het Alisha de Lange, Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Wes-Kaap, vandeesweek gesê.
Tydens die kongres, is daar'n uitreikaksie by die Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand gehou om 'n praktiese uitvoering te gee aan dit waarvoor Helpende Hand staan.
"Wat my persoonlik aangeraak het was tydens Sondagoggend se uitreik toe daar ook 'n groep motorfietsryers was wat die kinders 'n geleentheid gegun het om op 'n motorfietse te ry. Saam met my het 'n graad 1-seuntjie gesit en eet. Ek het vir hom gevra of hy wil gaan motorfiets ry toe hy klaar geëet het. Hy het 'n berekening gedoen en gevra of hy nie eerder nog bietjie kos kan kry in plaas van om motorfiets te gaan ry. Dit het my geweldig aangeraak dat hy eerder nog kos kies as om op die motorfiets te gaan ry. Natuurlik het sy gesiggie gestraal toe hy hoor hy kon albei kies."
Volgens Alisha kort Helpende Hand nog meer hande en vrywilligers regoor die provinsie om Afrikaner-armoede daadwerklik hok te slaan.
Vir meer inligting of om 'n verteenwoordiger, vrywilliger of ondersteuner te word, e-pos by alisha@helpendehand.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'