MOSSELBAAI NUUS - Met die bekendmaking vandeesweek van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag aangaande twyfelagtige kontrakte gedurende die nasionale ramptoestand, is bevind dat daar onreëlmatighede met meer as tweederdes van die kontrakte tot dusver ondersoek, plaasgevind het.
Die verslag volg na 'n proklamasie deur president Cyril Ramaphosa in 2020 om die SOE se grootskaalse ondersoek te magtig.
In hulle verslag, word egter gemeld dat die SOE geen bewyse vir die beweringe van korrupsie aangaande Covid-19 verwante uitgawes, teen die Mosselbaai-munisipaliteit kon vind nie.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het hierdie bevindinge tydens 'n spesiale raadsvergadering op Donderdag, 27 Januarie, verwelkom. Hy het ook president Cyril Ramaphosa se besluit om die inhoud van hierdie verslag aan die publiek bekend te maak, verwelkom.
Die beweringe verwys na aantygings deur 'n dienende opposisieraadslid, Dawid Kamfer, waaroor die Mossel Bay Advertiser in April 2020 berig het. Volgens die berig, het Kamfer 'n klag by die Mosselbaai-polisie ingedien en 'n ondersoek na beweerde korrupsie by die munisipaliteit versoek.
Volgens die verslag was daar onder meer valslik teenoor die SOE beweer dat onreëlmatighede met die verkryging en die verspreiding van kospakkies en beskermende kleredrag (PPE) plaasgevind het.
Die SOE se verslag meld spesifiek dat, toe die ondersoekbeamptes Kamfer ondervra het om verdere besonderhede te bekom, dié bewerings "uiteindelik beperk was tot 'n vae, ongestaafde bewering dat die Mosselbaai-munisipaliteit die fondse misbruik het om stemme te 'koop' deur die kospakkies en PPE te versprei aan polities gekose/voorkeur persone".
Die aantygings het op niks uitgeloop nie, maar die koste van die SOE-ondersoek beloop R1.279 miljoen.
"Dit is verblydend dat die ondersoek deur die SOE geen bewyse vir die vals bewerings teen die Mosselbaai-munisipaliteit kon vind nie. Gevolglik het die SOE hul ondersoek sonder enige bevindinge afgesluit," het Kotzé gesê.
Die munisipaliteit ondersoek tans die moontlikheid om die bedrag wat aan die SOE betaal moes word, gepas te verhaal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'