HARTENBOS NUUS - Granville Naudé, sy familie se engelkind, het wonder bo wonder verlede week sy 30ste verjaarsdag gevier.
Naudé se ma, Anne, was slegs ses maande met hom swanger toe haar hoë bloeddruk sy geboorte genoodsaak het. Hy het breinskade opgedoen, wat ook tot gestremdheid gelei het.
Sy suster, Angeline, het na Mossel Bay Advertiser uitgereik om hierdie verblydende dag van haar wonderwerkbroer te deel.
“My ma is in 2019 oorlede en ek en my pa, Peter, kyk na hom. Hy is onse engelkind in die huis.”
Sy sê hy verstaan hulle, maar kan nie terugpraat nie en kan ook nie loop nie, wat hom afhanklik van hulp maak.
Sy familie het ter viering van sy verjaarsdag op Dinsdag 18 November besluit om daardie Saterdag vir hom ’n heerlike familie-ete in Hartenbos te hou.
“Granville se 30ste partytjie was baie geseënd gewees. Daar het soveel trane by ons familie gerol, maar dis trane van dankbaarheid. Ons het onsself geniet en Granville ook - hy wou nie huis toe kom nie!” vertel Angeline.
Sy sê hy het al talle gesondheidsuitdagings gehad, maar “hy het 30 jaar oud geword, net deur genade van die Here. Ons is so dankbaar.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’