Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het vandeesweek saam met omgewingskundiges van verskeie sfere by die Diosma-reservaat in Heiderand besoek afgelê.
Dit volg na sy eie ondersoek na die natuurlike herstel van die reservaat na afloop van die vernietigende brande in Junie vanjaar, en sy kommer dat indringerspesies soos veral Port Jackson besig is om sterk opslag te maak in die gebied.
Een van die grootste uitdagings is om 'n vrywilligergroep op die been te bring, Vriende van die Diosma-reservaat, wat na die belange van die Diosma-reservaat kan omsien en veral sal toesien dat allerlei rommel nie op die oop area gestort word nie.
Tydens die besoek aan die reservaat is op rommel wat onlangs daar gestort is, afgekom. Belangstellendes kan Sandra Falanga van die Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (CREW) Programme by sandrafalanga@gmail.com of die munisipaliteit (044 606 5000) kontak.
Unieke plante
Die Diosma-reservaat is veral belangrik vir die bewaring van 'n endemiese tipe boegoe, die Diosma aristata, en ander tipes boegoe en fynbos wat ook op die rooilys voorkom.
Daar is ook Yucca en Lantana-opslag opgemerk, wat tot kommer aanleiding gegee het.
Die groep, wat ook verteenwoordigers van die Gouritz-groepsbiosfeernatuurreservaat (GCBR) ingesluit het, het te voet groot dele van die bewarea deurkruis en op verskeie kolle met opslag van jong Port Jackson-boompies afgekom, hoewel die gros daarvan blyk op die buitewyke van die area te wees.
Dit was egter bemoedigend om die opslag van ander fynbosspesies op te merk, asook die wyse waarop veral die proteas weer uitgeloop het.
Sandra het adv Giliomee bedank vir die aktiewe belangstelling wat hy in bewaring toon en vir die goeie samewerking wat bewaringsinstansies met die munisipaliteit en veral die omgewingskundige, Warren Manuel, handhaaf.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, Sandra Falanga van CREW en Dirk Zietsman van die munisipaliteit bespreek die beste wyse om van die jong opslag van Port Jackson ontslae te raak.
Sandra het egter gewys op twee groot, oop strukture, wat moontlik kon spruit uit die dae toe die grond wel vir ontwikkeling geoormerk was.
Sy het haar kommer uitgespreek oor die gevaar wat dit veral vir skilpaaie inhou as hulle daarin sou beland.
Advokaat Giliomee het sy personeel gevra om met oplossings vorendag te kom om dit te bedek.
Daar is met die munisipale bestuurder ooreengekom dat die Port Jackson-opslag op die grens van die reservaat sover moontlik verwyder sal word, maar dat die spanne onder toesig en slegs na die nodige opleiding ontplooi sal word.
Sy het veral gewys op die gevaar om nie die area direk omliggend aan die jong Port Jackson-boompies te versteur nie, veral nie aangesien nuwe opslag van fynbos tans baie goed vertoon.
Mosselbaai-munisipaliteit se omgewingskundige, Warren Manuel, wys op die vars rommel wat in die Diosma-reservaat gestrooi lê. Die behoefte bestaan dat die gemeenskap eienaarskap van die reservaat neem en waak teen rommelstrooiïng.
Daar is ook besluit dat sommige van die ouer Port Jacksons wel verwyder sal word, maar dat andere, waarin van die swam voorkom waarmee die bome biologies beheer word, behoue sal bly.
Die groep het ook besluit om die situasie met gereelde tussenposes te monitor.
Die goeie nuus is ook dat die munisipaliteit 'n aanvang neem met die omheining van die reservaat, hoewel hierdie projek afhanklik is van beskikbare fondse.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'