Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Honde se sterte swaai uitbunding en kinders kom glimlaggend aangehardloop as die kleurvolle Haval-bakkie met 'n hondehok agterop, in een van Sonskynvallei se strate parkeer.
Dís hoe bly almal is om die helpende hande agter Project Blessing te sien. Die projek is die breinkind van Anton Siebert, 'n opvoeder van Diaz Primêre Skool wat verlede jaar as tweede prins in die Mnr Suid-Afrika-kompetisie aangewys is.
Antwoord op gebed
"Ek wou nog altyd mense help. Dit is juis hoekom ek ingeskryf het vir Mnr SA. Per toeval sien ek toe 'n Facebook-inskrywing van 'n vrou wat hulp vra om diere in Sonskynvallei kos te gee. Vir my was dit 'n teken van die Here oor waar ek moes begin help en van daar af het dit net gegroei."
Project Blessing is in die proses om as 'n nie-winsgewende organisasie te registreer en hou hulle amptelike bekendstelling, deels in die vorm van 'n fondsinsameling op 10 Maart. Anton, sy vriendin Michelle Smit en Jenine Herbst is reeds sedert Augustus 2021 in Sonskynvallei met hulle projek doenig.
"Ons het begin by die troeteldiere in Sonskynvallei en die kinders daar begin geleer van liefde, omgee en respek vir diere. Want as jy 'n kind of mense leer om diere lief te hê, te respekteer en voor om te gee, sal hulle dit oral in die gemeenskap en ook hulle lewens toepas."
Dit het begin met die weeklikse kosgee van diere, maar uitgebrei na 'n algemene uitreik in terme van behoeftes binne die gemeenskap van kospakkies en geskenke uitdeel oor Kerstyd tot skryfbehoeftes aan leerders verskaf en nog meer.
Kosbakkie-projek
Wat hulle fokus op troeteldiere betref, is daar tans ongeveer 50 huishoudings waar Project Blessing hulp verleen.
"Vir ons gaan dit om te probeer help hoe ons kan en waar ons kan, want ons weet hoe dit voel om swaar te kry en niks te hê nie."
Intussen is die bakkie as 'n borgskap aan Anton verskaf, wat sy uitreikwerk aansienlik vergemaklik.
Verlede Saterdag, 19 Februarie het Anton se kosbakkie-projek by die Hartenbos Seefront plaasgevind. Die gemeenskap is gevra om skenkings van dierekos, maar ook handdoeke, toiletware en enige nie-bederfbare te bring en sy Haval-bakkie daarmee vol te pak.
Meer as 'n 100kg honde- en katkos is ingesamel. Tydens die insamelig is komberse en kussings ontvang het wat aangewend sal word vir nog een van sy projekte by 'n ouetehuis. Beddegoed vir diere is ook ontvang.
Sondag was die Project Blessing-span weer op hulle pos in Sonskynvallei om skenkings uit te deel.
Project Blessing se amptelike bekendstelling vind op 10 Maart in die Diaz Strand Hotel plaas. Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak Anton Siebert (073 564 2770).
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'