MOSSELBAAI NUUS - Mense wat bewus is van kinders wat verwaarloos word, in slegte omstandighede leef, of mishandel word, het 'n wetlike plig om dit aan te meld.
So sê ACVV Mosselbaai, 'n nie-winsgewende organisasie wat hom ontferm oor kinders en maatskaplike dienste aan gesinne op Mosselbaai bied.
Volgens maatskaplike werker, Amanda Beukes is dit belangrik dat enige soortgelyke inligting onder die ACVV Mosselbaai se aandag gebring word.
"Dit is inwoners se wetlike plig. Dit geld ook vir kleuterskole, laerskole en hoërskole. Indien enige persoon selfs net 'n vermoede het dat 'n kind in slegte omstandighede woon, moet dit by ons aangemeld word."
Voorbeelde hiervan is wanneer daar merke op 'n kind is, die kind onversorg is of byvoorbeeld gereeld in 'n klaskamer wil slaap.
Beukes sê hulle kan direk geskakel word.
"Deur dit aan te meld, help dit ons om op te tree. Wanneer iemand iets aanmeld is dit nog slegs 'n bewering maar ons kan dit dan opvolg. Watookal die uiteinde, dit is die hof wat 'n beslissing maak."
Kontak die ACVV Mosselbaai by 044 691 2259.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’