Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ondersoek 'n voorval waartydens 'n man 'n kat in Heideweg, Danabaai uit 'n voertuig laat spring het.
Beeldmateriaal van die man met 'n wit voertuig wat die kat op Donderdag, 8 September uit die voertuig laat spring en toegekyk het toe die kat weghardloop, het inwoners woedend gelaat.
Die beeldmateriaal is deur 'n kamera van 'n inwoner, Marius Opperman geneem. Dit duur ongeveer drie minute maar Opperman sê die voertuig was vir altesaam bykans 10 minute langs die pad geparkeer. Dit wys hoe die voertuig by 'n oop erf langs die pad stop.
Die man maak dan die voorste passasiersdeur oop en staan halflyf in die voertuig. Hy maak daarna die linker agterdeur oop en staan weer halflyf in die voertuig voordat hy na die kattebak stap en dit oopmaak.
Daar kan dan gesien word hoe die kat vinnig uitspring voor die man die kattebak toeslaan.
Die kat staan dan langs die voertuig en die man beduie met sy arm maar wend geen poging aan om die kat te vang nie.
Daarna hardloop die kat oor die pad en in die straat af. Die bestuurder staan steeds vir 'n ruk langs die voertuig voordat hy inklim en wegry. Die omstandighede van die voorval is nie tans bekend nie. Die voertuig het 'n CBS-nommerplaat met 'n kort nommer maar dit is nie leesbaar op die beeldmateriaal nie.
Dierebeskermingsvereniging
'n Woordvoerder van die Mosselbaai-dierebeskermingsvereniging (DBV) het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hulle is bewus van die video en ondersoek die voorval.
"Indien ons kan bewys dat die persoon die kat opsetlik net daar gelos het, kan ons hom aankla. Wat ons nie verstaan nie, is hoekom die man nie net die kat na die DBV gebring het nie.
Ons sit met 'n reuse katprobleem in Mosselbaai en daar is baie wilde katte. Ons wil 'n dringende beroep op die publiek doen om nie katte aan hulle eie genade oor te laat nie en hulle eerder net vir ons te bring. Indien jy 'n kat net aan sy eie genade oorlaat, word 'n mak kat 'n wilde kat."
Volgens die dierebeskermingswet is 'n persoon wat in besit van 'n dier is, verantwoordelik vir die dier. Dit maak nie saak of daardie kat die man se kat was, of iemand anders se kat was nie, die kat was in die man se besit en daarom was hy verantwoordelik vir die dier."
Enigeen met meer besonderhede word versoek om die DBV te kontak by 044 693 0824.
Vorige artikel: Katvideo laat talle vrae
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'