MOSSELBAAI NUUS - Raadsheer Dirk Kotzé is vanoggend, Maandag 23 Maart, as die DA se Mosselbaai-burgemeesterskandidaat vir die plaaslike verkiesing aangekondig.
Die amptelik datum vir die verkiesing is nog nie bekendgemaak nie, maar dit sal na verwagting later vanjaar plaasvind.
Volgens die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) moet die verkiesing tussen 2 November vanjaar en 30 Januarie volgende jaar plaasvind.
Sou Kotzé, die huidige Mosselbaai-burgemeester, as burgemeester herverkies word, sal dit sy tweede aaneenlopende termyn as DA-burgemeester vir Mosselbaai inlui.
Volgens ’n persverklaring deur sy kantoor volg dié nominasie op ’n baie streng keuringsproses wat onder meer ’n breedvoerige aanbieding van sy beplanning vir Mosselbaai, in-diepte-onderhoude, asook ’n evaluering van sy leierskap en visie vir die dorp ingesluit het.
Kotzé se woordvoerder, Aydn Parrott, sê sedert sy verkiesing in 2021 het Kotzé Mosselbaai deur ’n tydperk van finansiële stabiliteit, groei en veerkragtigheid gelei. “Belangrike mylpale onder sy leierskap sluit onder meer in die stigting van die Mosselbaai-gesamentlike beheersentrum [JOC] om rampbestuur en noodreaksie te koördineer; die Disability Accessibility Mossel Bay-inisiatief, wat inklusiwiteit en toeganklikheid vir persone met gestremdhede bevorder; en die totstandkoming van die Mosselbaai-bewaringsforum (maatskappy sonder winsbejag) om omgewingsbewaring in die groter Mosselbaai te bevorder,” sê Parrott.
Verder het die verklaring ook uitgebrei oor Kotzé se rol in toerisme en ekonomiese groei.
Kotzé self sê: “Ek is trots op wat ons sedert 2021 saam bereik het, maar daar is nog baie werk om te doen. Ek het die DA se nominasie as uitvoerende burgemeester vir Mosselbaai met dank en erkentlikheid aanvaar en stel my weer beskikbaar om Mosselbaai met integriteit, aanspreeklikheid en visie te dien.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’