Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Tihan Labuschagne is dalk skaars 16 jaar oud, maar hy besit arms van staal.
Tihan, ’n student aan die Zettie Jonker-hulpsentrum op Mosselbaai, is onlangs gekies om aan die wêreldarmdrukkampioenskappe deel te neem. Dié kompetisie vind van 10 tot 22 September in Bulgarye plaas.
’n Fondsinsameling ter ondersteuning van Tihan se komende reis is op Vrydag, 30 Mei, gereël. Dirk Kotzé, Mosselbaai se burgemeester, het Tihan tot ’n vriendskaplike armdrukwedstryd op die skoolterrein uitgedaag. Dit was dan ook Tihan se 16de verjaardagpartytjie.
Tihan het die burgemeester in al drie rondes verslaan. “Ek het ’n spier getrek!” het die burgemeester geskerts.
Tihan het in 2023 vir die eerste keer by armdruk betrokke geraak. “Groot was ons verbasing toe ons ’n uitnodiging kry om die provinsiale kompetisie in Heroldsbaai by te woon. Hier het Tihan sy eerste goud verower,” het sy trotse pa, Johan, vir Mossel Bay Advertiser gesê.
Tihan het die burgemeester in al drie rondes verslaan. Foto: Gabriélla Siebritz
In Junie 2024 is Tihan genooi om sy eerste nasionale kampioenskap in die Paarl by te woon. Hier het hy silwer vir albei arms (subjuniors se o. 60 kg-klas) gewen en is toe genooi om by die Protea-span aan te sluit. Ongelukkig was dit was egter nie moontlik nie.
Tihan het in April vanjaar weer vir die Protea-span gekwalifiseer en gaan nou in Bulgarye deelneem, in die juniorseuns se o. 60 kg-kategorie.
Johan praat namens Tihan, wat spraakapraksie het, en sê armdruk het sy seun die selfvertroue gegee om enige situasie te oorkom. Spraakapraksie is ’n neurologiese afwyking waar die brein sukkel om die bewegings te beplan en uit te voer wat nodig is om spraakklanke te produseer.
“Hy is erg opgewonde oor die geleentheid, maar baie bekommerd dat ons nie genoeg geld gaan hê om saam met hom Bulgarye toe te kan gaan nie,” sê Johan.
Albei Tihan se ouers, Johan en Tania, is ongelooflik trots op hom. “Ons is uiters bly dat Tihan hierdie sport op sy eie ontdek het en dat dit vir hom soveel geleenthede skep. Ons ondersteun hom met alles wat ons het sodat hy so ver kan gaan as wat hy kan in die sport,” sê Johan.
As jy belangstel om Tihan te help om sy droom te bewaarheid, kan jy ’n skenking op Back-a-Buddy maak.
Kyk hieronder na Tihan en Dirk Kotzé in aksie:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’