GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die persentasie van Suid-Afrika se jongste skoolleerders wat met begrip in hul huistaal kan lees is minder as 35%, volgens ’n onlangse verslag van die department van basiese onderwys.
’n Klein groepie inwoners van Klein- en Groot-Brakrivier het na aanleiding hiervan en ná besoeke aan plaaslike skole leesboeke en hulpbronne aan vier laerskole in dié omgewing geskenk.
Laerskool Vorentoe, Groot-Brakrivier Primêr, Friemersheim Primêr en Laerskool Ruiterbos het op Vrydag 28 November dié leesmateriaal ontvang.
Die hoofde van die onderskeie skole en van hul grondslagfaseonderwysers het die skenkings in ontvangs geneem en was elk opreg dankbaar vir hierdie bydrae tot hul leerders se toekoms.
Die skenkings is onder die vaandel van die maatskappy sonder winsoogmerk, Helping Relieve Poverty NPC, gedoen.
Die groep inwoners het dié organisasie op die been gebring. Die voorsitter, Johan du Toit, sê die aanvanklike fokus was op ondersteuning aan sopkombuise in die Wolwedans-gemeenskap, in samewerking met kerkorganisasies. Mettertyd het dit egter verander soos hulle ander behoeftes geïdentifiseer het.
Du Toit sê een van die ander lede, Emile Hurter, was die dryfkrag agter die organisasie. Ander lede sluit Johan Smit en André Olivier in. Tussen die lede is daar ervaring in verkeie sektore, insluitende die regte, die finansiële sektor asook die onderwys.
“Ons het ’n behoeftebepaling probeer maak van waar maatskaplike dienste in die Klein-Brak-gebied tekortskiet. Die resultaat was dat daar werklik ’n baie goeie netwerk van sulke dienste vir klein tot groot bestaan.
“Met besoeke aan skoolhoofde het dit egter geblyk dat ’n onvermoë by ’n ontstellende hoeveelheid leerders bestaan om hoegenaamd te kan lees of om met begrip te kan lees,” sê Du Toit.
Die departement van basiese onderwys (DBO) het in November ’n tegniese verslag vir sy Funda Uphumelele -nasionale opname uitgereik, wat na leerders se leesvermoë kyk. Die verslag raak aan verskeie aspekte van lees, taal en ook uitdagings wat skole in die gesig staar.
Volgens die verslag het die DBO oor die afgelope sewe jaar die ontwikkeling van leesmaatstawwe in al 11 amptelike gesproke tale gelei. Hierdie maatstawwe spesifiseer die fundamentele leesvaardighede wat kinders teen die einde van gr. 1, 2 en 3 moet aanleer om op koers te wees om teen gr. 4 met begrip te kan lees.
Volgens die verslag dui die resultate daarop dat slegs 31% van kinders die letterklankherkenningsmaatstaf teen die einde van gr. 1 bereik, met 30-33% wat hierdie maatstaf in gr. 1-3 in die huistale bereik.
Du Toit sê hulle het reeds in 2024 besluit dat hulle ’n fokus op leesontwikkeling en -bevordering wil plaas. “En dat dit met babastappe sal moet geskied, met die outonomiteit van die skole in gedagte. Immers lei lees tot kennis, opleiding en uiteindelike werk.
“Ons wou ons dus toespits op leesbevordering deur die verskaffing of aanvulling van bestaande leesprogramme aan die een kant, en aan die ander kant, om diegene wat wel kan lees aan die einde van gr. 1 te ‘beloon’ met ’n boekie van sy/haar eie.”
Die organisasie het ook ’n video van die besoeke aan skole saamgestel. Kyk dit hier: Helping Relieve Poverty NPC se boekeprojek
Du Toit sê ook hulle planne vir die omgewing eindig nie hier nie. “Ons maak planne vir die toekoms: fokus ook op die hoërskool, volwasse lees, voorlesing aan bejaardes, kunsmatige intelligensie-gebaseerde programme en dies meer.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’