MOSSELBAAI NUUS - Weens die nasionale ramptoestand en gevolglike inperkings vanweë die Covid-19-pandemie, moes die biblioteke in Mosselbaai by herhaling vir die publiek sluit.
Tydens die algemene maandelikse raadsvergadering op 25 Februarie het die raad ingestem om die geldigheidsdatum van boeke en items wat tussen 8 Desember 2020 en 8 Februarie 2021 sou verstryk, met drie maande te verleng.
Die sperdatum vir alle boeke en items word dus as 8 Mei 2021 beskou. Gevolglik sal geen boetes uitgereik word op boeke wat uitstaande is nie.
Die raad het ook toegestem dat, indien die biblioteke weer weens die Covid-19-pandemie moet sluit, die sperdatum dienooreenkomstig aangepas sal word om aan alle biblioteeklede 'n drie maande grasieperiode te gee om hul boeke en items terug te besorg, sonder enige boetes.
Let egter daarop dat boeke en artikels wat by die biblioteke geleen is sedert die heropening daarvan op 8 Februarie 2021, nie van boetes vrygeskeld sal word nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'