MOSSELBAAI NUUS - 'n Mini première van 'n dokumentêre film is by die Eden Country Inn vertoon.
Dit is die handewerk van 'n plaaslike filmmaker, boonop met plaaslike inwoners as akteurs en dit is in die Riverside-omgewing verfilm.
Die dokumentêr handel oor die lewe van Susan Nell. Nell is as jong tienermeisie op Nuwejaarsdag 1901/1902 in die konsentrasiekamp in Winburg gedurende die Anglo Boereoorlog verkrag en vir dood agtergelaat. Later, kwalifiseer sy in Nederland as sielkundige verpleegster.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is sy na Engeland waar sy in 'n hospitaal vir bomskokpasiënte gekonfronteer word met die verlede toe sy een van haar verkragters as pasiënt daar raakloop.
Efpe Senekal, 'n gesoute filmmaker het die film geskiet. Die verhaal word deur gesoute akteur Ian Roberts vertel. Die beeldmateriaal is oor vier weke in Februarie geskiet en die redigering het 'n verdere vier weke geneem.
Die dokumentêr volg na die boek, The Boer Whore deur Nico Moolman wat Nell se verhaal by 'n kennis gehoor het. Dieselfde storie is deur Francois Smit in 'n Afrikaanse drama, Kamphoer omskep.
Wat Senekal se dokumentêr so uniek maak is dat toe Roberts hom nader oor die dokumentêr, bly hy in Riverside, Klein-Brakrivier en baie ver van Winburg af waar die verhaal afgespeel het. Met 'n klein filmbegroting loop hy en sy vennoot, Barbara Snell uitmuntende plaaslike talent raak.
"Dit was ook 'n uitdaging om 'n voldoende agtergrond te skep om die tydperk en die omgewing van Winburg op film in Riverside vas te vang. Tente en kleredrag is van Dundee af hierheen gebring om die milieu van daardie tyd uit te beeld," vertel Senekal.
"Alhoewel die spelers geen dialoog gehad het nie, het hul gesigsuitdrukkings, emosies en spel my verwagtinge oortref," vertel Senekal.
"In die 25 minute wat die dokumentêr die lewe van Nell skets en met Roberts se vertelling tussendeur, kan mens net dink wat die vollengte film, wat in die pyplyn is, na vore gaan bring," sê Senekal.
Senekal het baie planne vir die toekoms. Hy wil graag plaaslike talent gebruik en hulle aan die filmbedryf bekendstel. Soos die film bedryf maar is, moet instansies inkoop in die maak van 'n film.
"Mosselbaai skep die ideale omgewing vir die filmbedryf wat eintlik ander stede soos Kaapstad oortref met prag natuurskoon. Ons sal graag meer sulke films hier plaaslik wil vervaardig," sê Senekal.
"Die tradisionele filmbedryf het prakties in duie gestort. SABC is nie meer die dryfkrag vir dramas nie, kykNet is beperk, die rolprentteaters is ernstig gekwes deur die Covid-19-regulasies." Senekal en sy span is ook betrokke by advertensie-video's vir besighede.
In Julie begin hul met die eerste kamera kursus wat twee weke sal duur en sal opgevolg word deur maandelikse kursusse en werkswinkels.
Plaaslike inwoner Chanè Kriel wat die hoofrol vertolk van Susan Nell.
Meisies in die konsentrasiekamp. Agter; Chané Kriel, Henriëtta Kriegler, Angeline Kriegler en voor sit Karlien Kriegler.
Plaaslike talent wat die rol van Engelse soldate speel in die dokumentêre film. Van links is Heinrigh du Preez, Ruan Maritz en Kasupie (Leonard) Pretorius.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'