MOSSELBAAI NUUS - Bernadette Coetzer is 'n inwoner van Klein-Brakrivier met 'n groot passie vir plante.
Haar tuin loop oor van vye-, koejawel- en kersiebome, bosse en selfs hommelbye wat kuier.
Die nuutste toevoeging tot Coetzer se tuin is pragtige litrose, wat uiteindelik geblom het ná jare se probeer en versorging. Net betyds vir Kersfees!
"Ek is so geseënd om sulke pragtige blomme in my tuin te hê," het sy aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Litrose, 'n vetplant, benodig minimale water en sonlig.
Coetzer het die perfekte plek vir dié blomme in haar katherberg ('n gebou waarin katte gehuisves en versorg word) gevind, waar hulle heerlike oggend- en middagson ontvang - die ideale hoeveelheid lig, wat vir dié plante benodig word.
"Wanneer die litroos uiteindelik blom, is dit 'n aanduiding dat die plant gelukkig is," sê sy.
Die pragtige litrose in Bernadette se tuin.
Bernadette Coetzer (regs) en haar vriendin, June White.
Coetzer het nog altyd 'n liefde vir vetplante gehad. Sy versamel al jare lank litrose en kry meeste daarvan by haar vriende.
Om dié plante te versamel en te koester, is bloot een van haar stokperdjies en iets om haar omgewing op te kikker.
Coetzer glo omdat die aarde vir ons so baie gegee het, moet ons aan die natuur teruggee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’