TUINROETE NUUS - Voor jy kostes aangaan om 'n hommeltuig aan te skaf of dit oorweeg om vir jou kind een te koop vir Kersfees, moet jy jouself eers vergewis van die moets en moenies oor diè nuwe tegnologie wêreldwyd.
In die Suid-Afrikaanse reg word die gebruik van hommeltuie omskryf as RPAS (Remotely Piloted Aircraft Systems) se regulasie ("Deel 101") en word gereguleer deur die Burgerlike Lugvaart Owerheid (BLO).
Hierdie industrie groei daagliks en die regulasies is sedert 1 Julie 2015 in plek gestel om beheer uit te oefen oor die gebruik van die hommeltuie.
Hommeltuie het 'n wye verskeidenheid van gebruike en word tans gebruik in die filmindustrie, lugopnames, landbou, mynbedryf, sekuriteit, plase, wildbewaring en vele meer.
Onderskeid gemaak
Hoe word daar egter onderskei tussen 'n onbemande hommeltuig met 'n vlerkspan van drie meter, 'n hommeltuig met vier motors of die speelding wat jy deesdae in enige supermark kan koop?
Die grootste onderskeid word egter gemaak tussen kommersiële-, korporatiewe-, nie-winsgewende- en privaat gebruik. Dit word omskryf in Deel 101 van die regulasie.
Vir kommersiële-, korporatiewe-, nie-winsgewende-gebruik is daar verskeie vereistes waaraan die vlieënier en die hommeltuig moet aan voldoen. Onder andere moet die tuig en sy operateur gelisensieerd wees wat 'n aansienlik bedrag geld kan kos. Sien skakel onder vir meer inligting hieroor.
Die volgende word egter uitgesluit van Deel 101: Outonome onbemande vliegtuie, onbemande vryvlug balonne, vliegtuie wat opereer in terme van Deel 94 (ongetipeerde gesertifiseerde vliegtuie), modelvliegtuie en speelgoedvliegtuie.
Privaat besit
- Indien jy in privaat besit is van 'n hommeltuig is daar egter verskeie reëls wat gevolg moet word.
- Jy mag nie nader as 50m vlieg van enige eiendom wat nie aan jou behoort nie, mits jy toestemming van die eienaar het.
- Jy mag nie nader as 50m van enige mens of groep mense vlieg nie.
- Jy mag nie nader as 50m van enige geboue vlieg nie.
- Jy mag geensins naby enige bemande vliegtuig vlieg nie.
- Jy mag nie nader as 10km van 'n vliegveld vlieg nie.
- Jou hommeltuig mag nie meer as 7kg weeg nie.
- Jy mag nie binne 'n gekontroleerde, beheerde of verbode lugruim vlieg nie.
- Jy mag nie hoër as 121.92m (400 voet) by benadering 120m vlieg nie.
- Jy moet altyd jou hommeltuig met die oog kan sien terwyl jy hom vlieg.
- Jy mag net in die dag vlieg en in gunstige weersomstandighede.
- Jy mag glad nie oor nasionale sleutelpunte vlieg soos kernkragstasies, damwalle, Parlement, Unie-geboue en enige van PetroSA se instellings insluitend die platforms in die see.
- Bly ook weg van tronke, polisiestasie, misdaadtonele, ongelukstonele, nasionale parke en howe.
- Jy mag nie 'n openbare pad gebruik om jou hommeltuig te lanseer of te laat land nie.
- Niks mag met 'n hommeltuig vervoer of afgelewer word nie.
- Hommeltuie mag nie toertjies doen of in formasie vlieg nie.
- Moenie die tuig met 'n pap battery vlieg nie.
- Moenie onder die invloed van enige substans vlieg nie.
- Maak seker die kompas is gekalibreer en die sein is sterk genoeg.
- Indien jy met jou selfoon as skerm vlieg, moet jy nie oproepe beantwoord.
- Inspekteer jou hommeltuig voor elke vlug vir enige gebreke.
- Alle ongelukke met die hommeltuig moet aangemeld word.
So vir die wat 'n speelgoed hommetluig in 'n plaaslike kettingwinkel wil aanskaf vir jou kind is daar nie veel wetgewing in plek. Indien die bogenoemde in ag geneem word behoort jy geen probleme te ondervind nie.
Sommige van die speelgoed hommeltuie het kamera's aanboord en moet jy maar net sorg dat jou kind of jy self nie oor buurman se heining vlieg om sy vrou langs die swembad af te neem.
Vlieg onder 45,72m (150 voet) by benadering 50m met 'n speelgoed hommeltuig en jy sal veilig wees.
*Hierdie artikel vervang nie die RPAS regulasie (Deel 101). Die volledige regulasies kan op die South African Civil Aviation Authority se webtuiste besigtig word. http://www.caa.co.za/Pages/Default.aspx
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'