MOSSELBAAI NUUS - Wat is 'n vakansie nou sonder foto's? Soos die jongmense sê: "Pics, or it didn't happen."
Nou het jy 'n hele galery vol foto's, of jou wederhelfte of kinders of vriende het die foto's, maar hoe gemaak om die kwaliteit van hierdie foto's te behou wanneer ander mense dit vir jou aanstuur, of jy vir hulle?
Soms wil 'n mens ná 'n vakansie 'n foto of twee laat uitdruk en raam; hoe hoër die kwaliteit van dié foto, hoe beter gaan hy druk.
Mense besef dikwels nie dat 'n foto se kwaliteit verswak sodra dit deur WhatApp aangestuur word nie.
WhatsApp het egter 'n ruk gelede 'n nuwe funksie bygevoeg wat jou in staat stel om die verswakking van kwaliteit te vermy, sou jy wou. Hierdie beter kwaliteit staan bekend as "hoë resolusie" of high definition of HD in Engels.
En, moenie toelaat dat die tegnologie jou oorweldig nie, die proses is eintlik heel eenvoudig.
Mens kan natuurlik ook 'n foto e-pos om sy kwaliteit te behou, maar kom ons sê, vir die doeleindes van hierdie oefening, e-posse bestaan nie.
Die eerste en belangrikste ding om te onthou is: om 'n foto van 'n selfoon af in HD te kan aanstuur, móét die foto op dáárdie foon geneem wees.
Jy kan byvoorbeeld nie 'n foto wat iemand anders op die normale manier vir jou ge-WhatsApp het, in HD vir iemand anders aanstuur nie - die foto se kwaliteit het reeds met die eerste aanstuur verswak.
So is jy nou by die huis in Gauteng en onthou jou vriendin het die mooiste foto van jou gesin op die strand geneem, en jy sou hom graag wil laat uitdruk en raam. Verduidelik die HD-proses vir haar só:
Stap 1: Gaan by jou selfoon se galery in, en dan na die kamera folder.
Stap 2: Vind die strandfoto en deel hom via WhatsApp.
Stap 3: Soek die persoon se naam na wie jy die foto wil stuur op WhatsApp.
Stap 4: Klik op die persoon se naam en klik dan op die groen pyltjie onder aan jou skerm.
Stap 5: Vóór jy wéér op die volgende groen pyltjie klik sal jy sien daar is 'n HD-knoppie aan die bokant van jou skerm, klik op hom.
Stap 6: Nou het jy die opsie tussen standard quality en HD quality, klik op HD quality.
Stap 7: Klik nou op die groen stuur-knoppie en siedaar, jou foto is in HD gestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’