MOSSELBAAI NUUS - Die somervakansie is hier en jy kan kwalik vir liefhebbers van Afrikaanse musiek 'n groter Kersgeskenk gee as die wete dat hulle gunstelingkunstenaars volgende week saam op een verhoog in Mosselbaai te siene sal wees.
Op 28 en 31 Desember vanjaar, gaan die Van Riebeeck-stadion dus klink en lyk soos nog nooit tevore nie, want die Afrikaans is Groot Somerfees is op pad.
Afrikaans is Groot (AIG), die grootste Afrikaanse konsert ter wêreld, is 'n jaarlikse hoogtepunt op die vermaaklikheids-kalender.
Bo en behalwe die groot name en glansryke kunstenaars se optredes om na uit te sien, is daar ook deurlopende vermaak op die dagverhoog soos die kroning van Mnr en Mej Somerfees.
Die kleingoed sal vermaak vind in die waterpark waar 'n veilige speelplek geskep sal word om die jongklomp besig te hou terwyl Ma die stalletjies besoek en Pa dalk 'n draai in een van die drie biertuine of by die touchies wil maak.
Die konsert skop om 18:00 af.
Alternatief is Groot
Maar die lekkerte eindig nie daar nie.
Op 31 Desember kan dié wat hou van "musiek met meer skop" hulle vere regskud vir die grootste Nuwejaars-jol in Afrikaans wat Mosselbaai tot nog toe gesien het - Alternatief is Groot.
Om die druk vakansieverkeer te vermy, het die organiseerders 'n blink plan beraam. Feesgangers wat nie self na die Van Riebeeck-stadion toe wil ry nie, kan gebruik maak van die vervoeroptelpunte by Dolf se Stasie, Hartenbos of die AIG Kuierarea in Diasstrand. Vir diegene wat wel eie vervoer gebruik, wees verseker dat daar genoeg parkering op die onderste sportveld van Van Riebeeck-stadion sal wees. Vind die sportgronde hier: www.bit.ly/AiGisHier
Moenie vergeet om jou kampstoele of pieniekkombers saam te neem nie.
Kaartjies vir die Afrikaans is Groot Somerfees, is beskikbaar by Computicket. Enige verdere inligting kan verkry word deur e-pos te stuur na info@afrikaansisgroot.co.za
Demi Lee Moore
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'