MOSSELBAAI NUUS - Vir die eerste keer ooit bring JOOX die Afrikaans is Groot Somerfees op 28 Desember Mosselbaai toe.
Ondersteuners kan regmaak om deur die grootste grootnaam kunstenaars met hul grootste treffers vermaak te word.
Dié Afrikaans is Groot Somerfees sal beslis die jaar op ’n hoogtepunt afsluit.
“Ons praat nou al vir vyf jaar daaroor om Afrikaans is Groot in ’n fees-formaat aan te bied en na ons lojale ondersteuners in die land te neem,” vertel Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van die Afrikaans is Groot-konserte.
“Mosselbaai was nog altyd in ons visier en ons skop daar af. Daarna gaan ons dié fees ook later in ander streke aanbied,” het hy gesê.
Musiekliefhebbers kan solank uitsien na Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Demi Lee Moore, Bok Van Blerk, Snotkop, Riana Nel, Elvis Blue, Jay, Tarryn Lamb, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Dewald Wasserfall, Corlea, Ruhan du Toit én Bobby van Jaarsveld in ’n produksie wat nié misgeloop kan word nie.
Met die belofte dat hierdie kunstenaars hul grootste treffers gaan sing, sal onder meer Steve met sy Pampoen, Corlea met Swart Koffie, Bobby met sy liedjie Spieëltjie, Karlien met Jakkals Trou Met Wolf Se Vrou en Riana Nel met haar Timbuktu konsertgangers op die punte van hul stoele hou.
Die organiseerders het vertel dat hulle uitsien om met die inwoners van Mosselbaai en die omliggende omgewing hande te vat en die gemeenskap betrokke te maak by die JOOX Afrikaans is Groot Somerfees. Die plaaslike gemeenskap sal ook baat by die ekonomiese inspuiting.
Die JOOX Afrikaans is Groot Somerfees-konsert vind op 28 Desember by die Van Riebeeckstadion plaas.
Kaartjies kos R150 vir volwassenes, R75 vir kinders onder 12 en kinders onder ses sal gratis toegang kry. Kaartjieverkope het reeds geopen en is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'