MOSSELBAAI NUUS - Drie verdagtes is in hegtenis geneem nadat drie jongmense die afgelope naweek in die Mosselbaai-omgewing vermoor is.
Tydens die eerste voorval op Vrydag, 27 Januarie is die 19-jarige Siyahluma Tyatyeka by die nuwe Mountain View-woonstelgebou langs Louis Fourieweg met 'n mes in sy kop gesteek.
Die omstandighede van die voorval is steeds onduidelik maar 'n ooggetuie het aan die Mossel Bay Advertiser gesê die 23-jarige verdagte het Siyahluma om ongeveer 23:00 ten aanskoue van omstanders trompop met die mes gesteek waarna die lem in sy skedel vasgesit het. Siyahluma is op die toneel dood verklaar.
Die verdagte het probeer weghardloop maar inwoners wat die gebeure sien ontvou het, het hom agterna gesit en aangerand. Hy is deur die polisie van 'n gewisse dood gered en het ernstige beserings tydens die aanranding opgedoen. Die verdagte is in die Mosselbaai-provinsiale hospitaal vir sy beserings behandel en het teen die ter perse gaan sy eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak op 'n aanklag van moord.
Asla Park
Slegs 'n paar uur daarna is 'n 24-jarige man op Saterdagoggend, 28 Januarie op die hoek van Mbangi- en Dubestrate in Asla Park vermoor. Die polisie het sy liggaam om ongeveer 05:00 ontdek en etlike ure later 'n 24-jarige verdagte in verband met die moord in hegtenis geneem. Meer besonderhede oor die voorval was nie teen die ter perse gaan bekend nie.
Friemersheim
Intussen het 'n 30-jarige man van Friemersheim, Johan Counter op Dinsdag, 31 Januarie sy eerste verskyning in die Groot-Brakrivier-landdroshof gemaak nadat die 16-jarige Jamie Lee Julius op Saterdagaand, 28 Januarie op die plaas Vadersgawe buite Groot-Brakrivier verkrag en vermoor is. Counter is oorspronklik van Noupoort en was werksaam op 'n plaas in die Groot-Sorgfontein gebied.
Hy was teen die ter perse gaan steeds in aanhouding.
Jamie Lee Julius
Mosselbaaier, Siyahluma Msingata is met 'n mes in sy kop gesteek.
Inwoners van Mosselbaai het 'n menseketting voor die Mosselbaai-landdroshof gevorm.
Jamie Lee Julius se vriende het binne hierdie plaashuis gekuier, skaars enkele meters verder vanwaar sy gewurg en verkrag is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'