Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vier vriende het 'n tyd gelede besluit om hande te vat en ‘n fondsinsamelingsprojek te loods om die kerk se Covid-19-fonds aan te vul, aangesien daar steeds groot nood onder die gemeenskap bestaan.
Elma en Lourens Nel, asook Lukas en Christa Smit is baie opgewonde oor die projek en gaan oor ‘n tydperk van 29 dae 1 000km tussen die vier van hulle aflê deur te draf, stap en/of fiets te ry.
Dit is ‘n groot uitdaging, wat beteken dat hulle oor 29 dae elke dag gemiddeld 34km tussen die vier van hulle moet aflê. Jonk is hulle glad nie meer nie en altwee gesinne is steeds werksaam en sal die daaglikse uitdagings na-ure moet geskied.
Elk van die vier gebruik 'n toep op hul selfone wat elke dag die afstand wat afgelê word, vaslê. Dit word dan bymekaargetel tot die totale afstand bereik is.
Dominee Gielie Joubert van die Kom Tuis-gemeente in Heiderand het op Dinsdag, 15 Maart presies twee jaar na die aankondiging van die eerste inperking, aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die gemeente van die begin 'n Covid-19-fonds begin het om die gemeenskap by te staan.
"Die mense het deur baie krisisse gegaan en baie mense is dood in Mosselbaai. Baie het finansieel agteruitgegaan," vertel hy. Volgens Joubert is die nood nie net onder die armes nie, maar het selfs gegoede gesinne nou op die broodlyn beland en het sommige besigheidseienaars hulle besighede verloor.
"Ons hoop en vertrou dat die Here ons 'n R100 000 gaan gee met die projek en sal ons mense soos voorheen binne en buite die gemeente kan bystaan in die tyd," sê hy. Hy het die vier geloof vir hulle bravade om die gemeenskap te help en vir hulle gebid dat hul veilig die einddoel sal bereik.
Wegspring
Die vier spring op Sondag, 3 April om 18:00 weg by die Kom Tuis-kerk op die hoek van Boldonstraat en Barlowstraat om die eerste kilometers af te lê. Hulle vra dat die publiek hulle moet ondersteun en is welkom om saam te kom draf, stap en fiets te ry.
Hulle behoort die teiken van 1 000km teen Sondag, 1 Mei om 09:00 te bereik en sal weer eens by die kerk in Heiderand eindig.
VIDEO: 1000km vir liefdadigheid
By die eindpunt gaan daar verskeie stalletjies wees waar onder meer artikels gaan wees wat nie pryse op het en gaan lede van die publiek self 'n bedrag geld kan betaal wat hulle goeddink.
Die publiek en besighede word ook gevra vir donasies of om elk van die vier te borg per kilometer. Enige bedrag vanaf 1c/km is baie welkom.
Besighede sal ook die nodige NPO nommer ontvang wat van belasting verhaal kan word.
Vir meer inligting kan ds Gielie Joubert gekontak word (072 137 3535).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'