MOSSELBAAI NUUS - Die bekroonde Kansa Relay for Life Garden Route vind hierdie naweek plaas by die D'Almeida-sportgronde.
Tydens hierdie deurnagstaptog, sal spanne bestaande uit 10-15 persone 24 uur lank rondom die baan stap om hulle solidariteit in die stryd teen kanker te wys. Die geleentheid begin op 3 Maart om 18:00 tot 4 Maart om 06:00.
Een van die oogmerke van hierdie byeenkoms, is om die kankeroorwinnaars erkenning te gee maar ook diegene te gedenk wat nie die stryd teen kanker oorleef het nie.
Die geld wat ingesamel word, word aangewend vir navorsing, bewusmakingveldtogte, asook dienslewering aan kankerpasiënte en hulle families.
Volgens beskikbare statistiek, neem tans meer as drie miljoen mense, waaronder ongeveer 'n half miljoen kankeroorwinnars, jaarliks aan die Relay for Life deel.
"Die gemeenskap word hartlik uitgenooi om op hierdie manier deel te neem aan die stryd teen kanker," nooi die organiseerders.
Diegene wat nie deel is van spanne nie en graag die geleentheid wil bywoon, sal versoek word om 'n donasie van R20 per volwassene, R10 per kind en R10 per voertuig ten behoewe van kanker te maak wat sal dien as toegangsfooi.
Kankeroorwinnaars tydens 'n vorige Kansa Relay for Life Garden Route.
Verversings sal deurgaans beskikbaar wees teen bedrae tussen R10 en R25.
Luminariasakkies of kerse van hoop (aangesteekte geloftekerse in papiersakke) word vooraf of tydens die geleentheid gekoop teen R10.
"Daar is verskeie hoogtepunte tydens die Relay, maar die kankeroorwinnaars en versorgers se deelname, asook die luminariaseremonie, is altyd besonders."
Besoekers en deelnemers word daaraan herinner dat voertuie en persone gevisinteer sal word om te verseker dat geen alkoholiese drank na die geleentheid gebring word nie.
Vir enige navrae, kontak Merle Singh (082 467 4413), Michael (079 697 3272) en Dudley (083 345 8554).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'