MOSSELBAAI NUUS - Tydens die mees onlangse maandelikse raadsvergadering, het die munisipale raad 'n voorstel aanvaar dat Stellenboschlaan, Hartenbos op weeksdae tussen 07:00-07:30 vir eenrigtingverkeer oopgestel sal word.
Hierdie voorstel is gemaak met die oog daarop om groter veiligheid vir voetgangers en skoliere te bewerkstellig te midde van die hoë verkeersvolumes wat soggens in die omgewing van Laerskool Hartenbos aangetref word.
Die voorstel is tans voorgelê vir openbare kommentaar en sodra die publieke deelnameproses afgehandel is, sal die die inligting deur die munisipale bestuurder, adv Thys Gilliomee vir verdere beslissing oorweeg word.
Twee voetoorgange word tans in Stellenboschlaan, naby die skool aangebring.
Die voorstel wat ter tafel gelê is behels dat Stellenboschlaan omskep word in 'n eenrigting, enkelbaanpad wat verkeer noordwaarts vanaf Bulhoeklaan na Kaap De Goede Hoop-laan sal laat vloei. Hierdie verandering sal op weeksdae tussen 07:00-07:30 van toepassing wees.
Bloedrivierstraat bly egter oop vir tweerigtingverkeer.
* Lees gerus meer hier aangaande raadsbesluite tydens die onlangse maandelikse vergadering gehou op 28 Augustus.
'n Voorstel dat eenrigtingverkeer vroeg soggens in Stellenboschlaan, Hartenbos geïmplementeer word, is tans oop vir kommentaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'