"Ons het begin met sewe varkies en nou is daar 17 wat die rondte doen. Iemand het self uit Ruiterbos gery om varkies te kom haal!"
Leolan se varkie-projek, of 5-projek, word so genoem omdat die oogmerk die aankoop van vyf spesifieke items was, naamlik 'n lamineerder, 'n kleurdrukker, Ipads vir die outistiese groep, Grow-opvoedkundige speelgoed en Practica-speelgoed.
Danksy die wonderlike ondersteuning vanuit die gemeenskap, is die kleurdrukker en lamineerder vandeesweek aangekoop en die Grow-opvoedkundige speelgoed, reeds op bestelling. Intussen het 'n oud-sakekennis van Yolandi, wat tans by die hoofkantoor van Crazy Store in Kaapstad werk, ook 'n ruim borgskap bewillig.
"Omdat ekself 'n outistiese seun het, het ek altyd geskerts dat ek nog eendag 'n skool gaan begin en toe 'n sake-kennis van destyds uitvind dat ek dit sowaar gedoen het, het my besluit skynbaar die regte vrugte afgewerp," lag sy.
Yolandi sê dat sy eintlik nie 'n instansie of indiwidu wil uitsonder nie, maar noem toe dat Erika Primêre Skool se onbaatsugtige poging haar hart laat vermurwe.
"Hulle het twee varkies geneem en die vyf sente wat nie inpas nie, bring hulle in plastieksakkies," vertel sy, "en wanneer die kinders hulle 5c skool toe bring se hulle glo: 'dit is vir die kindertjies wat nie kan lees of skryf nie'."
'n Varkie vol 5c lewer ongeveer R150, maar onlangs toe sy 'n varkie by 'n besigheid moes gaan oplaai, was dit so vol silwergeld, dat sy dit amper nie kon dra nie!
In Leolan Akademie se geval, sal die algemeen aanvaarde betekenis van die populêre uitdrukking 'om die vark in die verhaal te wees', na dese beslis in 'n meer positiewe lig gestel moet word!
Vir enige verder navrae, kontak Yolandi Botha by 083 722 4744 of stuur e-pos na leolan.academy@gmail.com.

Die Leolan Akademie se kinders en personeel is skoon oorbluf oor al die mense wat hulle 5c varkieprojek so wonderlik ondersteun het. "Ons is die Mosselbaaise gemeenskap oneindig dankbaar," meen Yolandi Botha.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS