TUINROETE NUUS - 'n Sestienjarige seun van Groot-Brakrivier is vanoggend, op Sondag, 1 Mei in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy 25-jarige broer met ‘n mes doodgesteek het.
Volgens die polisiekommunikasiebeampte, Sersant Laurianne Botha was die twee broers om ongeveer 05:00 in ‘n struweling by hulle woning in Green Haven betrokke.
‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die tiener tydens die rusie kombuis toe gestap het, ‘n mes uit die laai gehaal het, en sy broer in die nek gesteek het.
Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.
Die verdagte is by die woning in hegtenis geneem en bly in aanhouding.
Hy sal op Dinsdag, 3 Mei in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'