MOSSELBAAI NUUS - Adrian London, sedert 2015 op die beoordelaarspaneel van Mossel Bay's Got Talent (MBGT) spesifiek in die vokale kategorie, sê dat dié talentsoektog hom so opgewonde maak, dit gee hom hoendervleis.
Vir hom is die mees aanraaklike, die deelnemers se begeerte en gevolglike toewyding om iets van hulle talent te maak en êrens uit te kom.
Hyself was een van die soliste tydens vanjaar se openingskonsert van die Diasfees wat 'n hoendervleismooi-weergawe van die landslied gesing het.
Adrian is in Mosselbaai gebore. "Van kleins af was ek baie lief vir musiek en het graag by troues en skoolkonserte, sowel as in ons kerkkoor gesing."
Hy noem Mariah Carey as een van sy grootste musikale invloede. "Haar asemhalingsbeheer is net fantasties."
Sy liefde vir musiek het gelei tot klavierlesse op laerskool. 'n Leerder aan Erika Primêre Skool, het hy sy jaarlikse UNISA-musiekeksamens met lof geslaag. Aan Hoërskool Punt het hy musiek as 'n ekstra vak geneem. "Ek het elke jaar aan eistedfodds deelgeneem en aan 'n gemeenskapskoor behoort." Een van die kore, Harmony House, waarvan hy 'n lid was het 'n album vrygestel.
In 2018 het Adrian as 'n lid van die sanggroep, Crowned deelgeneem aan SABC 2 se talentprogram, Showville. Die groep het deurgedring na die top vier.
"Musiek is vir my ver meer as iets waarna jy net luister. Dit gaan dieper as dit. My liefde vir musiek en om met mense te kan werk is wat my lewe vul. Ek sal dit niks verruil nie."
Hy sou graag wou sien dat die jeug se talent in Mosselbaai selfs meer ontgin en ontwikkel word. "Van die hoogtepunte vir my, jaar na jaar, is wanneer die deelnemers en beoordelaars oor verskillende genres heen, aan die openingsitem werk. Die gees is net onbeskryflik."
Hy verwys na die MBGT-span as 'n familie. "Ek kan my nie voorstel hoe my lewe sou wees sonder hulle nie."
Adrian droom daarvan om verder te leer. En as kunstenaar? "Ek wil eendag op die Afrikaans is Groot-verhoog optree."
Die volgende oudisies vir MBGT word gehou op Vryheidsdag, Saterdag 27 April by die binnenshuise sportsentrum. Registrasie begin om 18:00. Deelnemers van Uitbreidings 13, 23 en 26 asook Aslapark word genooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'