MOSSELBAAI NUUS - Twee susters van Reebok, Anneke van Niekerk en Riana Botha, het onlangs die RSG Camino gestap.
Caritas Noord-Kaap het die RSG Red 'n Boer Camino gereël om fondse in te samel vir die boere in die droogtegeteisterde gedeeltes van die Noord-Kaap.
Meer as 100 mense het aan die staptog deelgeneem.
'n Paar bekendes wat Amore Bekker, Jak de Priester, Lindie Stander, Johannes de Villiers, Reginald Witbooi en Elvis Blue (per fiets) ingesluit het, was ook betrokke. Anneke en Riana het ongeveer 20km per dag van Williston tot Verneukpan gestap, 166km in totaal oor agt dae.
"Ons het so twee maande voor die tyd addisioneel begin voorberei vir die staptog en het albei al die Camino de Santiago in Spanje gestap. Ons was deurlopend bewus van die boere en arbeiders se swaarkry, min vee en weiding en die leë plaashuise. Die indrukwekkende landskappe van die area, alhoewel tipies dor, het ons hart gesteel," vertel die susters.
Hulle sê die stap was moeiliker as verwag met klipperige gruispaaie afgewissel met sand and stof, warm stapweer en koue nagte. "Om jou eie tent op te slaan en met beperkte geriewe klaar te kom, het dit nie makliker gemaak nie en die agt dae het beslis ons uithouvermoë getoets. Meeste van ons het onverwags probleme soos blase, seer voete en seer spiere ervaar wat nie op vorige staptogte 'n probleem was nie."
Meer as R1 miljoen is sover ingesamel en sal aangewend word om die omgewing se mense se kinders se skool- en universiteitsfondse en medies onder andere te betaal.
Stappers durf nog kilometers aan. Foto: Diane Pieterse
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’