Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Freek Steenberg se besondere beeldhouwerke kan van 3 tot 8 Julie by die Ou Tronk Museum in Knysna besigtig word.
Steenberg is 'n gaskunstenaar by die "Art Walk About" waar die publiek kan rondloop en kunswerke besigtig by die Knysna Oesterfees. Steenberg, voorheen 'n predikant, was op soek na 'n nuwe lewe, een waarin hy 'n bestaan kon maak en as mens ontwikkel.
Sy soeke het vyf jaar gelede op 'n plaas in die Klein Karoo tussen De Rust en Uniondale, tot ruste gekom. Op dié plaas het hy 'n nuwe lewenskwaliteit gevind waarin hy kon leef, asemhaal en rondloop.
Freek vertel: "Ek het iets suiwer en eg gevind. Daar is soveel skoonheid om my. Nie net kalmerende, sensitiewe skoonheid nie, maar ook kragtige en strak skoonheid. "Hier het ek tyd gekry om te ervaar en te dink.
Wat die mees belangrike is, is dat ek vryheid gevind het om te leef, om te wees, om kuns te skep, om deel van kuns te wees en om kuns te laat gebeur. "Die Klein Karoo het my siening van realiteit verander, want dit het 'n nuwe realiteit vir my geskep om te sien en te beleef. Dit het my verander. En dit is vir my die wese van kuns," het hy gesê.
Die besondere bome en plante van die Klein Karoo, klippe, droë beendere en selfs 'n turksvybos, is alles elemente wat in sy beelde gebruik word. Die droë Koeniebos, Olienhout en Qwarrie word omskep in 'n nuwe vorm van lewe. Van die bome word omvorm tot delikate, sagte kunswerke wat beskerming nodig het, terwyl ander kragtig, vol uitdrukking en vry in oop ruimtes leef. Die Knysna Kunsvereniging se "Unblocked" uitstalling begin op 30 Junie en word ook by die Ou Tronk Museum in Queenstraat, Knysna gehou.
Freek Steenberg begin met een van sy beeldhouwerke uit ‘n wilde olyfboom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’