MOSSELBAAI NUUS - Die gemeenskapskomitee wat onlangs tot stand gekom het om te besin oor die toekoms van die strand by Souwesia, maan inwoners dat streng riglyne sal geld oor die ordelike gebruik van die strandgebied.
In 'n persverklaring sê die groep dat die Mosselbaai-munisipaliteit goedkeuring verleen het dat dagbesoekers die fasiliteite daagliks mag gebruik, maar dit om 22:00 daagliks ontruim.
Besoekers mag wel op 31 Desember, 1 Januarie en tweede Nuwejaar op die terrein oornag.
Basiese gebruiksvereistes:
- Gemeenskappe en besoekers moet let op die gemelde datums, asook die basiese reëls en word versoek om streng daarby te hou:
- Geen uitsonderings sal gemaak of toegelaat word nie.
- Gemeenskappe en besoekers moet slegs deur komiteelede werk en nie ag slaan op ongemagtigde sosiale media-verklarings nie.
- Alkohol sal nie op die strand toegelaat word nie, veral nie weens die veiligheidsrisiko daaraan verbonde.
- Besoekers word versoek om alle mede-besoekers te respekteer en deurgaans gedissiplineerd op te tree. Geen boewery sal geduld word nie.
- Basiese geriewe soos water en toilette sal beskikbaar wees.
'n Vriendelike, dog dringende versoek word aan alle besoekers gerig, om deurgaans wette en reëls te eerbiedig, wetstoepassers en komiteelede te gehoorsaam en te respekteer, asook om gesonde oordeel aan die dag te lê.
Ouers word veral gewaarsku om kinders deurentyd op te pas en hul veiligheid te verseker.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'