MOSSELBAAI NUUS - Toe 'n jong paartjie op 'n warm Saterdag, 16 Desember 1967 in Stellenbosch getroud is, sou hulle hul toekomsdrome van 'n lewe saam ten spyt, seker nie kon raai dat hulle 50 jaar later weer op 'n Saterdag in die Harry Giddey-park in Mosselbaai, hulle huweliksbeloftes sou hernu nie.
De Waal en Joan Carstens het as jong studente aan die Universiteit Stellenbosch tydens 'n blinde afspraak in Augustus 1962 ontmoet.
Hulle was onderskeidelik 18 en 17 jaar oud gewees.
Daardie eerste aand al, te voet op pad na die fliek toe, het 'n gesprek tussen die twee begin waarvan die laaste woord nog lank nie gesê is nie.
Hoewel beide hul tydens hul professionele lewens onderskei het, werk hulle tans as 'n raakvatspan saam in die oudhedewinkel en teater wat hulle bedryf.
Saterdagoggend, 16 Desember is die twee vroeg uit die vere en het hulle met 'n 1915 Model T Ford tot in die Harry Giddey-park gery.
Die lorrietjie wat behoort aan trotse eienaar Ockert van der Berg het douvoordag die N2 vanaf Groot-Brakrivier aangepak vir die groot geleentheid.
Van der Berg het die voertuig self opgebou "uit stukke" en al die houtwerk self gedoen.
Die onderstel van die voertuig, sê Van der Berg, was voorheen deel van 'n plaashek.
Hierdie Model T Ford uit 1915 was die "bruidsmotor". Die pragstuk behoort aan Ockert van der Berg.
By die park aangekom het pastoor Leon Prinsloo van die AGS Greenhaven die paartjie, nabye familie en vriende ingewag om weer die seën oor die Carstense huwelik uit te spreek.
Pastoor Prinsloo het gesê dat benewens die besondersheid van die dag, dit ook vir hom die heel eerste keer is wat hy die voorreg het om 'n 50ste herdenking op hierdie manier te beleef.
Met die aanhoor van hulle gunstelingliedjies waaronder Rick Nelson se Never be anyone else but you, wat De Waal glo graag in hulle studentedae vir Joan gesing het, het die tweetjies hand aan hand nie net die herdenking van 'n vol lewe nie gevier nie, maar ook die begin van 'n nuwe hoofstuk begroet.
Saterdagoggend, 16 Desember is die twee vroeg uit die vere en het hulle met 'n 1915 Model T Ford tot in die Harry Giddey-park gery.
Hulle sê almal vra hulle wat die geheim is vir hulle gelukkige huwelik.
Bo en behalwe dat dit gegrondves is in hulle vaste Christelike geloof, sê die twee dit gaan oor kommunikasie en spanwerk.
"Ons het ook altyd saamgewerk om aan onsself individueel te werk," meen De Waal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'