MOSSELBAAI NUUS - Damvlakke in die groter Mosselbaai is die laagste die afgelope ses jaar. Dit blyk uit swak reënvalsyfers dat die dalende tendens sal voortduur.
As inwoners nie daadwerklik water spaar nie, sal die Wolwedansdamvlak waarskynlik reeds teen einde September tot onder 50% daal en sal bestraffende tariewe ingestel móét word.
Mosselbaai kry drinkwater uit die Wolwedansdam waarvan die damvlak nou reeds op 59.45% is, vergeleke die 60,60% van sowat 'n week gelede. Die damvlak toon 'n kommerwekkende daling sedert April 2018, toe die dam byna 90% vol was. PetroSA kry ook water vanuit hierdie dam.
Pro-aktief
Die damvlak het van 61,84% op 29 Julie, tot 60,60% op 5 Augustus, en 59.45% vandeesweek gedaal. Die Wolwedansdam het 'n kapasiteit van 24 630 Ml, vergeleke met die Ernst Robertsondam - wat tans steeds redelik vol is - se kapasiteit van slegs 410 Ml.
Op Woensdag, 21 Augustus het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en direkteur tegniese dienste, Dick Naidoo met die streeksdirekteur, Betrand van Zyl en verteenwoordigers van department water en sanitasie (DWS) vergader om pro-aktiewe, samewerkende planne te beraam sodat Mosselbaai se waterbronne beskerm kan word. Dit volg nadat riglyne vir waterverbruik vanaf die onderskeie damme in Augustus deur die DWS aan Wes-Kaapse munisipaliteite gestel is.
"Ons het swakker reënval as vorige jare, maar ten spyte van neerslae kom dit voor asof damvlakke nie dienooreenkomstig styg nie," het adv Giliomee gesê. Hy het gevra of die DWS monitering doen van water wat verbruikers uit die bronne onttrek en het sy kommer uitgespreek oor die toestand van pompe in die Moordkuilrivier wat die waterbronne voed.
"Die dalende damvlakke is 'n probleem wat almal raak en wat gesamentlik aangespreek en bestuur moet word."
Mosselbaai het reeds pro-aktiewe stappe geneem en die departmentele riglyne vooruitgeloop deur nie meer water uit die Klipheuweldam te onttrek nie. Die munisipale bestuurder moniteer waterverbruik vir die groter Mosselbaai weekliks ter wille van effektiewe risikobestuur.
Pompe vervang
Die DWS het gesê dat bouwerk gaan binnekort, waarskynlik teen November begin om die huidige twee pompe in die Moordkuilrivier met vier nuwe pompe te vervang. Een van die huidige pompe is buite werking en die tweede pomp "is op geleende tyd".
Die departement se streekkantoor het ook in die onlangse verlede skynbaar 'n volledige opname gedoen van alle waterverbruikers, ook dié stroom-op van die damme maar dit wil voorkom asof die werklike waterverbruik nie teenoor die toegelate watervoorsiening gemeet word nie.
Kommer dat waterverliese die gevolg van onwettige onttrekking en of 'n gebrekkige instandhouding van infrastruktuur is, sal indringend ondersoek en aangespreek word.
'n Opvolgvergadering, waar ander rolspelers ook betrek sal word, word binne die volgende twee weke beplan.
Tydens 'n vergadering op versoek van die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee (links), het die direkteur tegniese dienste, Dick Naidoo (regs) en streekdirekteur van departement water en sanitasie, Bertrand van Zyl (vierde van links) en hul personeel samewerkende planne beraam om die benarde situasie met Mosselbaai se watervoorraad aan te spreek. Foto: Nickey le Roux
Na raming sal die Wolwedansdam se watervlak reeds teen einde September tot onder 50% val en kan inwoners bestrawwende tariewe vir water te wagte wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'