MOSSELBAAI NUUS - Verskeie raadslede en amptenare van Mosselbaai-munisipaliteit het op 2 April met belanghebbende gemeenskapsverteenwoordigers oor Souwesiastrand vergader.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die verteenwoordigers met die sukses van die 2018-seisoen gelukgewens.
Daar was geen negatiewe voorvalle gerapporteer nie en die perseel was in 'n aanvaarbare toestand na die seisoen gelaat. "Om dit te vermag, het beslis harde en toegewyde werk vereis. Wat die prestasie selfs meer merkwaardig maak is dat die gemeenskaps-verteenwoordigers geen vergoeding ontvang het nie," aldus adv Giliomee.
Voorstelle vir werkskepping
Mosselbaai se munisipale amptenare wou 'n voorstel vir die vestiging van 'n landgebasseerde boerdery met seeskulpdiere, met 50 tot 200 potensiële werksgeleenthede vir inwoners van Toekoms en Groot-Brakrivier, met die verteenwoordigers bespreek.
Die verteenwoordigers het dit egter duidelik gestel dat hulle nie belangstel om van sodanige voorstel te verneem nie en het aangedring dat niks anders bespreek word as die aanwending van Souwesia as kampeer- en ontspanningsfasiliteit nie.
Die munisipale verteenwoordigers het hierdie standpunt van die komitee respekteer.
Die gemeenskapsverteenwoordigers het die munisipaliteit versoek om magtiging om te onderhandel vir die herstel en opgradering van Souwesia met donateurs wat reeds deur hulle geïdentifiseer is en sal word.
Die aspekte wat aangespreek sal moet word, sluit in:
- die oprigting van voldoende permanente toilet- en stortgeriewe;
- die voorsiening van beligting;
- watervoorsiening;
- die herstel van die braaigeriewe;
- voldoende vullishouers wat gereeld gediens word;
- die oprigting van 'n omheining en die instel van sekuriteitsdienste;
- die voorsiening van voldoende lewensredders;
- die opgradering van interne en toegangspaaie; en
- opknapping van die terrein in die algemeen.
Die munisipale amptenare het verduidelik dat aan die relevante wetgewing en prosesse voldoen moet word. Na die opgradering van die Souwesia-perseel, sal die komitee verantwoordelik wees vir die instandhouding daarvan.
Die Mosselbaai-munisipaliteit berig in 'n persverklaring dat die inisiatiewe deur die gemeenskapsverteenwoordigers ondersteun word mits alle planne vir die voorgestelde verbeterings ingedien en vooraf goedgekeur word. Ook moet alle werk wat gedoen word, voldoen aan die standaarde soos deur die Mosselbaai-munisipaliteit gestel. Die samesprekings het in 'n goeie gees plaasgevind. 'n Opvolgvergadering sal so spoedig moontlik gehou word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'