Die projek beoog om vir soveel as moontlik plaaslike minderbevoorregte kinders wat volgende jaar graad 1 toe gaan, skryfbehoeftes in te samel.
Skole is gevra om hul skryfbehoeftelyste vir ons te stuur sodat ons seker kan maak ons samel die korrekte produkte in om volgende jaar se graad 1'tjies korrek toe te rus vir 'groot skool'.
Agt plaaslike skole het reeds gereageer, en ons sal ongelukkig geen verdere versoeke kan aanvaar nie.
Hierdie skole is: Friemersheim Primêre Skool, Ridgeview Primêr, Laerskool Hartenbos, Denneprag, Garden Route Primary, Groot Brak Primêr, Isalathiso Primary en Diaz Primêre Skool.
Die spesifieke skole se skryfbehoeftelyste is reeds gepubliseer en is op verdere aanvraag beskikbaar by die Mossel Bay Advertiser. Ons plaas egter hierdie week die onderskeie lyste van Garden Route Primary, Groot Brak Primêr, Isalathiso en Diaz Primêr.
Nou vra ons die publiek om hierdie projek heelhartig te ondersteun. Ons wil graag aan hierdie versoeke voldoen, maar sal dit nie kan doen sonder die vrygewigheid van Mosselbaaise inwoners en -besighede nie.
Donasies wat ontvang word, sal erkenning deur middel van publikasie in die Mossel Bay Advertiser geniet (tensy die skenker anoniem wil bly).
Dalk lê daar 'n ongebruikte pakkie potlode of riem afrolpapier in jou studeerkamer rond?
Dalk het jy soveel rolle toiletpapier dat jy nie weet wat om daarmee te maak nie, of dalk maak jou kind vanjaar met skool klaar en het 'n skerpmaker of FlipFile wat nog in goeie kondisie is?
Ons daag self ons plaaslike naaldwerksters uit om te help stoelsakke of pennesakkies maak!
Skenkings kan afgegee word by die Mossel Bay Advertiser se kantore: Kerkstraat 9, Mosselbaai.
Klik hier vir die jongste aansoeke van 'n paar skole.
Denneprag Primêr-lys.
Hartenbos Laerskool-lys.
Ridgeview Primêr-lys.
Friemersheim Primêr-lys.

'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'