Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Vermeende selfoondief, vermoedelik in sy 40s, het vanoggend sowat 30m ver teen die kranse by die Punt in Mosselbaai afgerol nadat hy 'n selfoon van 'n werknemer by die Punt Hotel gesteel het.
Volgens die woordvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie, was 'n werknemer van die Punt Hotel besig met onderhoudswerk by een van die woonstelle, toe hy sy selfoon neersit om sy hande te gaan was.
Die verdagte moes sowat 5m klim om die woonstel te bereik. Hierna het hy die selfoon gegryp, afgespring en langs die grot met die paadjie langs gehardloop waar sy makker hom ingewag het. Die werknemer het hulle agternagesit.
Terwyl die verdagte en sy makker nog binne sig was, het die verdagte gegly en teen die kranse afgerol. Sy makker het aanvanklik aanhou hardloop, maar toe omgedraai en die polisie gebel.
Fotogalery: Man het vanoggend by Punt afgerol
Die polisie was binne 10 minute op die toneel.
Nooddienste en die polisie het die verdagte onder die kranse gaan uithaal waar hy probeer wegkruip het. Hy is hierna per ambulans na die provinsiale hospitaal geneem met verskeie skraapmerke en wonde aan die gesig.
Hy sal egter ook ondersoek word vir inwendige beserings.
‘n Span van die nooddienste het die kranse afgeklim, die selfoon herwin en aan die werknemer terugbesorg.
Die werknemer het aan die polisie gesê dat hy nie 'n saak gaan maak nie aangesien die verdagte volgens hom reeds sy straf gehad het.
Kyk 'n video hieronder:
Nooddienswerkers maak gereed om die beseerde dief te red.
Die werknemer het aan die polisie gesê dat hy nie 'n saak gaan maak nie aangesien die dief volgens hom reeds sy straf gehad het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'