Update
MOSSELBAAI NUUS - Solidariteit Helpende Hand doen 'n beroep op ouers om seker te maak dat hul kinders nie toegang tot pornografie kry deur hul selfone nie.
Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum wat terapeutiese dienste aan kinders tussen twee- en 17-jaar bied, het in 2019 in Pretoria-Noord oopgemaak.
Yolandi Singleton, hoof van Ons Sentrum, sê dat hulle aanvanklik 'n verskeidenheid van gevalle hanteer het, maar sedert Junie verlede jaar, werk hulle omtrent net met gevalle van seksuele misbruik.
"Hiermee saam het ons ook 'n reuse toename in kinders se blootstelling aan pornografie gesien. Pornografie was nog altyd 'n probleem, maar dit wil voorkom asof kinders op 'n al jonger ouderdom toegang verkry tot pornografie op die internet, omdat daar nie altyd voldoende toesig is nie.
"Kinders word al op 'n jong ouderdom toegelaat om apps soos TikTok en YouTube te hê en daar is baie min beperkings daarop. Animasiefilms dra ook by tot kinders se blootstelling aan pornografie, aangesien die inhoud daarvan nie meer noodwendig onskuldig is nie. Dit het ongelukkig tot gevolg dat die samelewing se morele kompas verander en dat onvanpaste inhoud amper meer aanvaarbaar en genormaliseer word," sê sy.
Singleton verduidelik pornografie het 'n negatiewe uitwerking op kinders, aangesien hulle nie die intellektuele vermoë het om daarvan sin te maak nie.
Verwronge idees oor seksuele aksies
"Kinders ontwikkel dan verwronge idees oor seksuele aksies wat hulle ongelukkig leer dat daar nie meer grense rondom hulle liggame hoef te wees nie. Dit is 'n groot probleem, omdat dit 'n impak het op hoe kinders romantiese verhoudings beskou aangesien pornografie die idee skep dat twee mense net met hulle liggame 'n verhouding kan hê. Dit gee ook vir hulle die idee dat enigiets rondom hulle liggame aanvaarbaar is. Hulle toets dan ook hierdie inhoud wat hulle gesien het op ander kinders om sin te maak van wat hulle gesien het.
"Dit is ongelukkig so dat 'n kind wat deur 'n ander geteiken is, dikwels dieselfde aksies met 'n ander kind herhaal, en so versprei dit al verder."
Pornografie lei tot seksuele misbruik
Singleton sê voorts pornografie kan met seksuele misbruik gepaardgaan. Blootstelling aan pornografie is dikwels 'n seksuele oortreder se poging om 'n kind te begin desensitiseer teen die misbruik wat daarna volg. "Ons noem dit hofmakery. Die oortreder gebruik die pornografie as 'n opleidingsmetode om vir die kind te wys presies wat van hom verwag gaan word tydens seksuele dade.
"Ons moet meer as in die verlede ernstig met ouers praat oor kinders se onbeperkte toegang tot sosiale media. Kinders word groot met tegnologie en weet hoe om toegang tot pornografie te kry. Hulle kyk dikwels onskuldig na kindervriendelike stories waarna daar pop-ups verskyn wat seksuele inhoud bevat," sê sy.
Sterker rolmodelle
Volgens Singleton benodig kinders deesdae baie sterker rolmodelle om hierdie belangrike gesprekke met hulle te fasiliteer. Hoewel kinders grootword met tegnologie en sosiale media en hulle baie meer daarvan weet as grootmense, is dit belangrik dat grootmense hulself vergewis van dit waaraan kinders op 'n daaglikse basis blootgestel word.
"Ons moet die moeite doen om hulle een stappie voor te wees sodat hulle van die begin af leer hoe om sosiale media op 'n verantwoordelike wyse te gebruik. Die beste tyd om 'n probleem te probeer aanspreek, is nog voor die probleem begin het."
Gebroke individue en gemeenskappe
Sy sê seksuele misbruik lei tot gebroke individue, gebroke gesinne en gebroke gemeenskappe.
Met die skoolvakansie op hande doen Solidariteit Helpende Hand 'n beroep op ouers om seker te maak dat kinders nie deur hul selfone toegang tot pornografie kry nie. Helpende Hand doen ook 'n beroep op gemeenskappe om saam te kom en oor die kwessie in gebed te tree.
Vir meer inligting stuur 'n e-pos na yolandis@helpendehand.co.za of kontak phillip@helpendehand.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'