RIVERSDAL NUUS - Die algemene jaarvergadering van Riversdal se gemeenskaps-polisieforum (GPF) op 2 Maart het verskeie interessante sake opgelewer.
Volgens voorsitter, Harry Stroebel is nog befondsing vir die kameraprojek nodig.
"Die kameras wat oral in en om die dorp opgerig word, is uiters belangrik vir die voorkoming van misdaad, maar ook om misdadigers te kan identifiseer en in hegtenis te neem."
Hy vra ook dat die sogenaamde hot spots oftewel brandpunte geïdentifiseer moet word deur polisie-, asook buurtwaglede. Daar is reeds begin met die skoonmaak van bosagtige gebiede in die dorp, maar daar is nog baie plekke wat aandag moet geniet.
Stroebel het die nooddienste, Riversdal-polisie, buurt- en plaaswaglede, asook almal wat die gemeenskap tydens die feesseisoen veilig gehou het, bedank vir hul harde werk.
Die inbrake rondom Northpark-woonstelle raak egter 'n probleempunt en hy het gevra dat dit meer besoek word.
Hy het 'n versoek aan die gemeenskap gerig om ook meer veiligheidsbewus te raak en nie misdadige elemente in die versoeking te lei om in te breek nie.
"Sorg dat jou voertuig se vensters toe en die deure gesluit is wanneer jy inkopies gaan doen of kuier. Moet ook nie kosbare items oop en bloot daarin laat nie. Dieselfde geld by jou huis."
Ander probleempunte wat aangeraak was, is die toeloop van stout kinders en vreemde voetgangers, asook vreemde voertuie in die Hessequa-gebied, sowel as inbrake en diefstal, veral op Vermaaklikheid.
"Dit is jammer dat Kindersorg en die ACVV nie ons vergaderings bywoon sodat die probleemkinders aangespreek en 'n oplossing daarvoor gevind kan word nie," het Stroebel gesê.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'