Update
MOSSELBAAI NUUS - Danksy twee goeie geleenthede waartydens Mosselbaaiers hul hart en hand oopgemaak het, het Anton Siebert se Project Blessing 'n goeie hupstoot gekry.
Siebert, tweede prins in die Mnr Suid-Afrika 2021-kompetisie se Project Blessing is amptelik gisteraand,11 Maart bekendgestel.
Hy, sy vriendin Michelle Smit en Jenine Herbst reik sedert verlede jaar Augustus na die troeteldiere van Sonskynvallei uit. Die projek het egter intussen uitgebrei om ook ander behoeftes in die gemeenskap aan te spreek.
Verlede Saterdag, 5 Maart het Siebert sy geborgde Haval-bakkie vir die tweede keer by die Hartenbos Seefront staangemaak en die gemeenskap versoek om skenkings te bring wat die bakkie dan sou volmaak.
By die vorige geleentheid is heelwat dierekos ingesamel, so ook ander benodigdhede wat by een van Project Blessing se uitreikprojekte na 'n plaaslike tehuis vir bejaardes ingespan kan word.
Siebert berig dat daar die afgelope naweek sewe sakke vol skenkings ingesamel is wat ook aan tehuise vir bejaardes versprei sal word.
"Die bakkie-projek is baie suksesvol. Dit betrek baie mense in die gemeenskap. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning," berig Siebert. Hy beplan om hierdie projek maandeliks aan te bied.
Project Blessing se bekendstelling het in die Haval-vertoonlokaal plaasgevind. Gaste het dit op uitnodiging bygewoon.
Siebert het ook intussen geskakel met die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé om meer oor sy werksaamhede te vertel en die moontlikhede van samewerking te bespreek.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'