Die 45-jarige Gladstone Vermeulen, ook van die Strand, is in die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal opgeneem met brandwonde en vir pyn en skok behandel. Hy is sedertdien na die provinsiale hospitaal op George oorgeplaas, waar die provinsiale departement gesondheid se woordvoerder, mev Nadia Ferreira, sy toestand as stabiel beskryf het.
"Hy het brandwonde aan die linkerkant van sy lyf opgedoen, en sal mettertyd 'n veloorplanting daarvoor moet kry," het sy bygevoeg.
Petroljoggie
Volgens een van die petroljoggies het hy om 08:04 'n ambulans van sy selfoon af vir hulp gekontak. Hy sê die SA Polisie was eerste op die toneel. Paramedici van die Mosselbaai Brandweer het tevergeefs probeer om Dyalazo se lewe te red en hy is op die toneel dood verklaar.
Toe die voorval plaasgevind het, was daar na bewering nie motoriste wat op brandstof gewag het nie.
Instandhouding
Beide slagoffers het ten tye van die voorval vir First Africa Rigging gewerk. Die maatskappy se bestuurder op die toneel, mnr Jeremy van Reenen, was baie ontsteld oor die voorval en het gesê die twee betrokke mans was intens veiligheidsbewus.
Beide het die nodige veiligheidsdrag aangehad, hoewel hulle instandhouding gedoen het, maar die elektriese stroom was eenvoudig te sterk en het dus ernstige brandwonde aan beide slagoffers veroorsaak.
"Die maatskappy het reëlings getref om die oorledene se vrou na Mosselbaai te vergesel," het mnr Van Reenen bygevoeg.
Sy het Dinsdagaand in Mosselbaai aangekom en is enkele ure daarna weer terug na die Strand.
Die maatskappy doen instandhoudingswerk by verskeie vulstasies. Die mans het die steier geskuif om die dakkie van die petrolpompe wat diesel aan vragmotors verskaf, te gaan verf toe die voorval plaasgevind het.
Ten tye van die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die toneel was munisipale en Eskom elektrisiëns op die toneel. Eskom moes ter wille van die ondersoek die krag kortstondig onderbreek in dele van Danabaai, KwaNonqaba en Heiderand.
'n Geregtelike doodsondersoek sal nou op die gebeure volg.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Die elektriese stroom het letterlik die sole van die twee betrokke mans se skoene gesmelt. Foto: Dave van der Merwe
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'