MOSSELBAAI NUUS - Telefoonkabels wat in onbruik is en wat rondlê in die Aalwyndal-omgewing lok skynbaar ongure, kriminele elemente na die gebied. Volgens inligting, poog boosdoeners nie net om die kabels weg te dra nie, maar het hulle ook toegeslaan op die Mosselbaai-vliegveld.
Tydens 'n voorval verlede week, wat aangemeld is by en ondersoek word deur die Da Gamaskop-polisie, is daar van die aanloopbaan se ligte met kabel en al verwyder. Dit is na bewering glo ook nie die eerste nie, maar reeds die derde soortgelyke voorval.
Hartog Blok, 'n lid verbonde aan die Mossel Bay Aero Club het by navraag bevestig dat ligte en kabels verskeie kere al by die vliegveld verwyder is. Hy het ook gesê dat die situasie hulle genoop het om per geleentheid 'n waarskuwing te rig aan vliegveldgebruikers betreffende dié toestand waaronder landings uit die aard van die saak lewensgevaarlik kan wees.
Inwoners in die omgewing beweer dat hulle herhaaldelik met Telkom in aanraking gekom het om die situasie te bespreek en te versoek dat die ongebruikte telefoonkabels verwyder moet word aangesien dit as lokaas vir misdadigers dien. Die Mossel Bay Advertiser het navrae hieroor aan Telkom gerig en dit blyk dat hulle nie van die probleem bewus was nie. Daar is egter aangedui dat hulle wel aan die probleem sal aandag gee en dat die publiek vrymoedigheid moet neem om in die toekoms sodanige probleme te rapporteer.
Telkom het teen druktyd nog nie bevestig of hulle hiermee volstaan as hulle amptelike kommentaar oor die kwessie nie.
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasie-beampte van die Da Gamaskop-polisie het gesê dat die buurtwag in die gebied, kennis dra van die probleem en dus in reaksie, verskerpte patrollies sal doen.
Hy het ook aangedui dat die buurtwag bereid is om Telkom van hulp te wees wat betref die verwydering van die ongebruikte kabels ten einde hulle woonbuurte te beveilig.
Opgerolde, ongebruikte kabels lê openlik langs die pad en skep 'n geleentheid vir misdadigheid.
Ongebruikte telefoonkabels kry die skuld vir 'n toename in misdaad in die Aalwyndal-omgewing.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'