Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Besonderse, formidabele man wat sy lewe voluit geleef het, het op Dinsdag, 21 September op 95 jaar, sewe maande en drie dae gegroet.
Oom Tom is in die sorg van dr Ann Lubout, familie en vriende in sy bed in Klein-Brakrivier oorlede nadat hartversaking ingetree het. Volgens Thomas jnr het sy pa tot op die laaste nog met hulle gepraat, hy het geglimlag en stadig weggegaan.
Volgens 'n sosialemediablad wat oom Tom se lewe gedenk, gaan sy afwesigheid 'n groot leemte laat en sy skaam glimlag sal altyd gemis word.
Oom Tom het sy merk in Mosselbaai gemaak toe hy 'n paar dae na sy 95ste verjaarsdag die oudste man geword het wat die zipline aangevat het. Hoewel hy in tandem moes afgaan, het hy aan Mossel Bay Advertiser gesê hy is sommer omgekrap omdat hulle hom nie self laat bestuur het nie.
Volgens Thomas jnr sou sy pa met sy besoek aan Klein-Brakrivier in Oktober verlede jaar eers net tot na sy verjaarsdag bly. Hy het dit egter so geniet in die Wes-Kaap en het besluit om nie op sy oudag na die stad terug te gaan nie. Hy het baie vriende gehad en 'n besonderse vriendskap met Hakeem Ayeni.
Fotogalery: Ons onthou Tom Campher
"Sy laaste wens dieselfde dag van sy dood was dat hy wag vir 22:00 om saam met Ayeni, soos hulle elke aand gedoen het, 'n Drambuie-likeur saam te drink. Hy is egter 18:00 die aand oorlede," vertel Thomas jnr.
Kyk gerus weer na die video toe Tom Campher op 95 by die zipline af is:
'n Gedenkdiens is Woensdag, 29 September by die Mooiuitsig Kombuis op Groot-Brakrivier gehou, terwyl daar terselfdertyd 'n gedenkdiens by Tom Campher Motors in Auckland Park, Johannesburg gehou is.
Toe hy 'n jong man was, was spoed en motorsport vir oom Tom 'n daaglikse adrenalien-inspuiting. Hy het 25 jaar gelede afgetree nadat hy Tom Campher Motors in Johannesburg sedert 1975 suksesvol bedryf het.
Thomas Campher jnr tydens sy pa se gedenkdiens Woensdag, 29 September waartydens familie en vriende die lewe van oom Tom gevier het.
Foto: Jannie du Plessis
Thomas Campher jnr tydens sy pa se gedenkdiens Woensdag, 29 September waartydens familie en vriende die lewe van oom Tom gevier het.
Tom Campher was tot op hede die oudste man wat by die zipline afgegaan het. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'