MOSSELBAAI NUUS - Op 1 Desember het die meerderheid van matrieks hul penne neergelê vir die eindeksamen - duisende was daarna op pad na Matriekbaai op Mosselbaai.
Die organiseerder van dié geleentheid, Lian Fourie, sê die skoolverlaters kan uitsien na "een beláglike line-up", ekstra borge, wat ingespring het wat dinge bietjie interessanter gaan maak, 'n heel ander uitleg van die feesterrein by Dias en natuurlik die splinternuwe Santos Dagparadys.
Die geleentheid het amptelik op Vrydag, 1 Desember afgeskop, maar die eerste buitelug aandkonsert is vanaand, 4 Desember.
Kunstenaars vir die tydperk sluit groot name soos Spoegwolf, Jack Parow, TiMO ODV, Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties, Early B en meer in.
Fourie sê daar is om en by 3 000 vaste inskrywings vir die weekkaartjies en dan is daar baie mense wat ook vir 'n dag of twee bykom wat wissel tussen 'n ekstra 1 000 tot 2 000 oor die 10 dae.
"'n Groot fokus wat ons verlede jaar gesien het, is natuurlik die veiligheid.
"Ons wil klem lê op ons noue samewerking met die munisipaliteit, polisie en veral die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Die GPF het 'n briljante werk gedoen verlede jaar, en hulle gaan selfs nog beter doen vanjaar," sê Fourie.
Matriekbaaiers kan die Matriekbaai Instagram-blad se stories dophou vir enige ekstra inligting wat die organiseerder deel.
Veiligheid
Die GPF Da Gamaskop sal weer vanjaar met die buurtwag van sektor 2 koördineer om te help met die veiligheid van die Matriekbaaiers.
Philip Mattheus en Hannalie Marais van die GPF staan aan die hoof van die vrywilligerspanne.
"Ons, tesame met tussen 30 tot 50 vrywil-ligers, sal elke aand werk om die jongelinge met hul veiligheid by te staan terwyl hulle in die areas tussen die verskillende bymekaarkom plekke beweeg tot die vroeë oggendure tot alles gesluit word.
"Ons hoof doelwit is die veiligheid van die Matriekbaaiers," sê Mattheus, die GPF voorsitter vir Da Gamaskop.
Ondersteun die geleentheid
Vanuit 'n dorpsoogpunt sê die munisipaliteit hy ondersteun die geleentheid wat Matriekbaai aan jong mense bied om aan die einde van die jaar te kom ontspan.
"Die geleentheid skep op verskeie maniere 'n noemenswaardige ekonomiese inspuiting vir Mosselbaai.
"Terugvoering wat verlede jaar vanaf talle jongmense wat die geleentheid bygewoon het ontvang is, is dat veiligheid en uitstekende vermaak die eerste Matriekbaai gekenmerk het. Boodskappe is ook van Matriekbaai-gangers se ouers ontvang, waarin hulle hul gemoedsrus aangaande hulle kinders se veiligheid te kenne gegee het."
Die munisipaliteit bied ondersteuning aan geleenthede soos Matriekbaai wat betref sommige logistieke reëlings ten opsigte van byvoorbeeld die sluiting van die straat, die geraasvrystellingsproses en vullisverwydering.
"Die munisipaliteit bied ook advies en leiding op administratiewe gebied, maar die organiseerders is, net soos met ander geleenthede, verantwoordelik vir die oorhoofse reëlings."
Die klassifikasie vir die geleentheid, soos bepaal deur die SAPD, is ontvang as medium risiko vir beide Dias- en Santosstrand. 'n Geleentheids-beheersentrum met alle rolspelers, waar SAPD-lede in bevel sal wees, sal operasioneel wees op die Matriekbaai-perseel vir die duur van die geleentheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’