MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Ses-en-dertigjare man het gister vlugtig in die Mosselbaai Landdroshof verskyn op verskeie aanklagte wat onder meer verband hou met kinderpornografie, verkragting en seksuele aanranding.
Die verdagte se identiteit kan nie bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie gepleit het nie.
Die saak is gister uitgestel na 17 September sodat die verdagte met sy prokureur kan konsulteer. Die man sal op 21 September formeel om borgtog aansoek doen.
Die skokkende bewerings teen die verdagte sluit in dat hy ‘n 96-jarige vrou wat aan Alzheimer se siekte ly by die versorgingsfasiliteit waar sy woon, seksueel aangerand het en verkrag het asook dat die verdagte homself op dieselfde perseel aan ‘n 76-jarige inwoner ontbloot het.
Die verdagte het nie in die fasiliteit gewerk nie maar was indiens geneem om buite die gebou instandhoudingswerk te verrig.
Die polisie ondersoek nog die omstandighede van die voorvalle en onder meer presies hoe die verdagte toegang tot die inwoner se kamer gekry het.
Kyk 'n video hieronder:
Intussen het ondersoekbeamptes verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe beslag gelê op die verdagte se selfoon. Skokkende foto’s van kinderpornografie is op die verdagte se selfoon ontdek.
Die fasiliteit waar die misdrywe gepleeg is het onmiddelik toe bestuur van die bewerings bewus raak ondersoek ingestel en die polisie gekontak. Die fasiliteit beskik ook oor kameras in die vertrekke en die verdagte is met behulp van beeldmateriaal vasgetrek.
Hy bly in aanhouding vir die tydperk voor sy borgaansoek. Die polisie is steeds besig met die ondersoek en dit blyk dat daar meer as tien aanklagte teen die verdagte aanhangig gemaak sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'