Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die nood van 'n jong ma en haar kleuterdogtertjie is aangespreek deur 'n paar barmhartige Samaritane as deel van hulle welwillendheidswerk op Mandeladag.
Llewellyn Marx, 'n werknemer van die munisipaliteit het danksy lede van sy gemeente van 'n enkelma en haar driejarige kleuter se ongerief by haar blyplek verneem en besluit om 'n iets aan die saak te doen.
Met die hulp van onder meer Andrew Griffiths, wat sy eie maatskappy bedryf en Dawie Gerrits, van Ithemba Project Managers and Consultants, is materiaal bekom en is die bal aan die rol gesit.
"Die vroutjie se blyplek het nat en koud gebly. Wind en water kon nie uitgehou word nie."
Met 'n paar helpers se insette daarby, het Marx die blyplek onder hande geneem om die koue en nattigheid uit te hou. Selfs 'n paar ekstra werkies is gedoen in die kombuis en die volgende stap, volgens Marx, is om die plekkie met 'n bietjie verf hier en daar op te knap.
Kyk 'n video hieronder:
"Daar is so baie slegte goed wat die afgelope tyd gebeur, dat ons hierdie tipe ding in ons samelewing en land nodig het," berig Gerrits na afloop van die projek.
Met ma en kleuter nou beskut teen die elemente, was haar reaksie een van groot dank by navraag of haar storie gepubliseer kan word.
"Julle kan dit maar doen, maar ek wil graag hê dat daar gesê moet word dat ek die hemelse Vader dank, want ek het rerig tot Hom gebid. Dit kon rerig nie anders uitgewerk het as Sy hand nie oor alles was nie. Dit is is my enigste versoek rondom alles. Dat alles uitgwerk het volgens Sy wil. Die dank en eer gaan alles aan Hom."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'