Die gemeenskap word uitgenooi om saam met die kleuters in ‘n optog deel te neem wat om 14:00 vanaf die St Blaize Kerksaal wegspring.
Die kleuterskool het sy beskeie ontstaan in Augustus 1990 gehad in 'n ou gebou in Tarka wat vroeër jare as polisie-aanklagkantoor gebruik is. Aanvanklik is ongeveer 16 kleuters onder leiding van Kinder-en-Gesinsorg met Ds Van der Ross (VGK Kerk) en mev Rosie Claasen (maatskaplike werk) versorg.
Twee moeders uit die gemeenskap is destyds gekies om die kleutersorg op hulle te neem.
Hierdie moeders is toe die geleentheid gebied om hulself oor die jare as Voorskoolse opvoeders op te lei, en vandag kan hulle tot Laerskool grondslagfase klasse aanbied.
Juweeltjie het intussen steeds gegroei en het met behulp van Rosaline Claasen na 'n groter perseel (Nativity Kerksaal) verhuis.
Me Claasen het gehelp dat hierdie kleuterskool suksesvol bedryf word. Hulle was van donasies van die gemeenskap en van Kinder-en-Gesinsorg afhanklik.
Vir net meer as drie jaar is die kleuters in die saal onderrig.
Hulle getalle het tot 80 kleuters en vier opvoeders gegroei en die nood het groter geword.
Kinder-en-Gesinsorg het toe die skooltjie gehelp om 'n plekkie van die Munisipaliteit te bekom, waar hulle vandag steeds is.
In 1997 is Juweeltjie by die Departement van Welsyn geregistreer.
Intussen het mev March Levendal het by me Claasen oorgeneem. Vinnig het die getal kleuters tot 120 aangegroei.
Tans is daar agt Voorskool-opgeleide personeellede, twee assistente en 'n Beheerraad wat uit nege lede bestaan.
Kinders word daagliks van drie maaltye voorsien en die Opvoedkundige Program van Nasionale Standaarde word gebruik om die kleuters holisties te ontwikkel.
Juweeltjie strewe daana om hul eie skoolgebou te bekom.
Op hierdie stadium is 'n stuk grond reeds aangekoop, maar die skool beskik nog nie oor genoegsame fondse om ‘n eie gebou op te rig nie.
Juweeltjie waardeer alle hulp wat van 1990 tot 2011 ontvang is en is dankbaar dat die Here hulle tot hier gedra het. Hulle bedank ook alle individue, ouers, besture, die Departement van Welsyn, Departement van Gesondheid, die Mosselbaai Munisipaliteit, Kinder-en-Gesinsorg, donateurs en alle opvoedkundige instansies wat oor die jare by die kleuterskool betrokke was.
Die opvoeders bedank die huidige bestuur vir die goeie samewerking en positiewe houding wat lei tot die vooruitgang van die Juweeltjie Kleuterskool.
Verjaarsdagprogram:
13 Augustus: 'n Kinderpartyjie en tee word vanaf 15:00 by die sportsentrum aangebied en kostes beloop R25 per persoon.
20 Augustus: Basaar van 10:00 af in die Nativity Kerksaal.
26 Augustus: ’n Restaurant-aand vind plaas vanaf 18:00.
Hoender en skyfies - R45; Spare-rib en skyfies - R45; Hamburger en skyfies - R35.
2 September: Die reünie begin 18:00 by die sportsentrum.
Vir meer inligting kontak die skool by 044 693 1607.
.jpg)
Die klein kleuters van Juweeltjie saam met Vorne Petersen (Opvoeder), Myrtel Bailey (Kok), Adrie Arends (hulp assistent), Sheila Groenewald (Opvoeder).
ARTIKEL EN FOTO'S: MELISSA HILLS, MOSSEL BAY ADVERTISR-JOERNALIS