MOSSELBAAI NUUS - As deel van die munisipaliteit se strategie om nouer bande met alle belangegroepe te handhaaf, is onlangs weer met landbouers van die distrik gesprek gevoer.
'n Interessante bestuursinligtingstelsel is deur personeel van die Wes-Kaapse departement van landbou bekendgestel en landbouers is genooi om die inligting tot hul voordeel te gebruik. Die inligting isaanlyn tot die publiek se beskikking by gis.elsenburg.com/apps/cfm.
Jaarliks word die Cape Farm Mapper-inligtingstelsel opgedateer. Inligting word ingesamel deur die provinsie in beide die somer en winter te deurkruis met vliegtuie wat elke plaas fotografeer om 'n presiese weergawe van landboubedrywighede tot in die kleinste besonderhede vas te lê.
Waar onder meer die gebruik van skadunette dit onmoonlik maak om die aard van gewasse vas te stel, besoek grondspanne die onderskeie plase en word onderhoude met die betrokke landbouers gevoer om data korrek en behoorlik vas te lê.
Hierdie inligtingstelsel, wat plaaslik ontwerp is, was veral tydens die afgelope droogte in die groter Skiereiland van onskatbare waarde.
Dit bied ook bestuursinligting wat belangrike tendense karteer en veranderinge in gebruikspatrone asook energiebehoeftes meet.
Die navorsing het onder meer bevind dat daar 'n tendens is om heelwat meer hoër waarde eksotiese besproeiingsgewasse soos bloubessies te verbou, met 'n toename van 464 hektaar tot 823 hektaar gedurende die navorsingstydperk.
Daar is 'n beduidende toename in skadunetgebruike, waarskynlik ter wille van die waterbesparende eienskappe en arbeidsintensiewe aard daarvan. Tog het die navorsing getoon dat veral groenteverbouing en werksgeleenthede in die landbou die ergste onder die knellende droogte gely het.
In die Suid-Kaap was dit opmerklik dat mengsel van veldgewasse relatief konstant gebly het, hoewel 'n toename in veevoerverbouing opmerklik was.
Landbouers is genooi om die data tot eie voordeel vir die beplanning van hul werksaamhede aan te wend deur die inligting aanlyn te bekom en, waar nodig met die departement van landbou se navorsers daaroor te skakel.
Werkstudie-analise
Die munisipaliteit het ook die werkstudieanalise wat tans onderneem word na die koste van dienste en dienslewering met die landbouers bespreek.
Dié projek beoog om 'n beter belyning van die werklike koste van dienslewering teenoor munisipale inkomste daar te stel en voorlopige data dui daarop dat daar 'n oorverhaling in die koste van dienste, en 'n onderverhaling op eiendomsbelasting is. Daar word dus verdere studies onderneem om vas te stel of die diensleweringstariewe moontlik tot 'n mate verlaag, en die belastingskoers op eiendomme verhoog behoort te word.
Hierdie projek is tans vir 'n tweede ronde openbare deelname met gemeenskappe opgeneem en verdere inligting word tans verfyn.
Die landbouers het hulle sterk uitgespreek oor eiendomswaardasies wat baie onlangs meegebring het dat hul eiendomsbelasting met tot 300% gestyg het. Hulle het hul kommer gelug oor die impak van enige verdere koste-stygings in hierdie verband, veral aangesien landbouers geen ander dienste van die munisipaliteit verbruik nie.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het die landbouers vir hul bydrae tot werkskepping in die omgewing bedank.
Landbou is een van die grootste werkskeppers in die omgewing en as burgemeester is hy persoonlik getaak om toe te sien dat meer werksgeleenthede in die groter Mosselbaai tot stand kom, het hy gesê.
Hy het hulle geloof vir die goeie verhoudinge met die plaaslike owerheid en genooi om hierdie verhouding uit te bou deur effektiewe gesprekvoering en skakeling.
Landbouers van die omgewing het die geleentheid gebruik om met raadslede en die munisipale uitvoerende bestuur gesprek te voer. Foto: Nickey le Roux
Burgemeester Harry Levendal het die landbouers geloof vir hul reusebydrae tot die streek se ekonomie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'