MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-leeskring het die skrywer, Jan van Tonder genooi om op 10 Junie sy jongste boek, Grootgeluk te kom bespreek.
Van Tonder het in 2004 met sy roman, Roepman, die aandag op hom as skrywer gevestig.
Die stad Durban vorm die agtergrond van dié boeiende verhaal van onskuld en die verlies daarvan.
Grootgeluk is ‘n historiese roman waarvan die flapteks lees: "Tijs Velaat is gebore op die plaas Grootgeluk in die distrik Oudtshoorn.
Hy en sy mame, Hessie, woon naby die Schoemans se opstal, so naby dat Tijs snags die werfhonde kan hoor snork. Hy is getuie van als wat reg en verkeerd loop op die werf.
Nooi Hendrien se jaloesie wanneer Maria haar pa se guns wen, Maria se ontmoeting met die Skotse beeldhouer, die koms van die Britse soldate ... Miskien as Tijs nooit die skilpad op sy dop gekeer het nie, kon dinge anders verloop het. Nie net vir hom nie, maar vir byna iedereen wat met hom te doen het."
Dit laat sekerlik baie vrae by die potensiële leser ontstaan.
Jan van Tonder het self ‘n baie kleurryke geskiedenis en het die naam dat hy lekker praat. Die boekbespreking beloof om ‘n spesiale oggend te wees.
Enigeen wat belangstel, kan die bespreking bywoon. Daar word ‘n fooi van R30 gehef om te help met die skrywer se reiskoste.
"Bevestig bywoning en of jy gaste saambring deur 'n WhatsApp of skakel 082 904 8686 teen 3 Junie," nooi Annelize van Rooyen, die organiseerder.
Die byeenkoms is by Celia Theart se huis, Galatea 191, Mosselbaai-gholflandgoed.
Gebruik die Schoemandstraatingang en bel 083 462 5925 om die hek te laat oopmaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'