MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaier, Sarah Kannemeyer werk hierdie Desember, 2021 reeds 30 jaar vir die Booysen-gesin.
Die Booysens het in April 1991 na Mosselbaai getrek en woon sedertdien op die dorp.
Hermana Booysen, Sarah se werkgewer sê hulle gesin het haar onder meer met 'n sertikaat vir haar uitsonderlike lang diens beloon.
In Desember, 1991 het Hermana vir haar buurvrou se huiswerker gevra of sy van iemand weet wat haar dalk kan uithelp.
Op 9 Desember het Sarah by hulle deur aangeklop. Hermana sê sy onthou Sarah het nog 'n swart hoed met swart hakskoene gedra.
"Sy het vir my gesê sy is nie bang vir werk nie maar sy werk nie op Kersdag of Nuwejaarsdag nie."
Dit het die begin van 'n lang reis vir die Booysens en Sarah geword.
Hermana sê Sarah het haar kinders grootgemaak terwyl sy moes skoolhou.
"Iets besonders van haar is dat sy elke dag dieselfde is. Sy is nooit buierig nie. En elke dag as ek vra hoe dit met haar gaan sê sy: 'Die Here spaar my uit.'"
Die gesin en Sarah is deur dik en dun en hulle het Sarah ook bygestaan met die afsterwe van haar seun.
Ook Hermana se ma en pa het vir Sarah geken.
"Voor my pa oorlede is het hy vir Sarah gevra om mooi na my ma om te sien. Ons is almal baie lief vir haar."
Volgens Hermana het Sarah soveel geduld en straal sy net liefde uit.
Die Booysens en hulle vriende vra gereeld vir Sarah om vir hulle vis te bak, omdat sy glo die lekkerste vis kan bak.
Hoewel hulle al vir Sarah gevra het om af te tree, bly sy in diens van die gesin en pas sy vandag, vir ouma, Margareth Basson (86) op.
Sarah was 29-jaar oud toe sy vir die Booysens begin werk het.
Die Booysens het vir Sarah hierdie sertifikaat gedruk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'