Sias Grootboom, wat op 25 Julie sy 57ste verjaarsdag sou vier, is vermoedelik Donderdagnag deur twee mans in hulle twintigerjare in sy huis oorval en vermoor. Die mans was na bewering aan hom bekend.
Volgens inligting, het die mans toegang tot sy huis in Mayixhalestraat deur 'n kombuisvenster verkry. Die oorledene was aan die slaap in sy kamer.
Grootboom was nog nooit getroud nie en bly al 10 jaar alleen in sy huis.
Hy het na bewering wakkergeword van geluide in die kombuis en gaan ondersoek instel, waarna een van die verdagtes met hom slaags geraak het toe hy uit die huis probeer ontsnap het.
Hoewel die uitslag van die nadoodse ondersoek nog hangende was teen druktyd, bestaan die vermoede dat die oorledene verwurg is.
Die verdagtes het hulle uit die voete gemaak met onder andere die sleutels van Grootboom se wit Corsa-bakkie.
Onraad bemerk
Een van die verdagtes het op Vrydag, 13 Junie 'n derde party genader en aan hom die sleutels van Grootboom se bakkie gegee met die versoek dat die voertuig geskuif moet word.
Toe die derde party by die voertuig, wat steeds buite Grootboom se huis geparkeer was, aankom, het hy onraad bemerk omdat hy die oorledene geken het.
Hy het by die bure aanvraag gedoen oor Grootboom, waarna hulle die SAPD gekontak het.
Grootboom se liggaam is in die eetkamer gevind.
Die twee verdagtes is Saterdagaand gearresteer en is positief met die misdaad verbind nadat verskeie gesteelde items steeds in hulle besit gevind is.
Hulle het vandeesweek in die Mosselbaai Landdroshof verskyn en is steeds in aanhouding.
Enige persoon met verdere inligting rakende die saak, kan die ondersoekbeampte, sers Richard Sotshantsha, kontak op 072 193 8203.
'n Staatmaker sterf
Sias Grootboom was 22 jaar in diens van die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal, waar hy by die linnebank werksaam was.
Hy was ook 'n kranige musikant en bekend vir sy trekklavierspel.
"Sias was 'n man wat geleef het vir sy musiek, sy werk en sy kerk," meen pastoor Willem October van die Victory Gospel Church, 'n jare-lange vriend van die oorledene.
"Ten spyte daarvan dat Sias geen kinders van sy eie gehad het nie, was geen opoffering te groot vir 'n kind nie.
Hy het jarelank gehelp met die Sondagskool en het altyd aangebied om kinders te vervoer," vertel past October.
Sy kleinneef Freddie Hintza van Dysselsdorp, wat die begrafnisreëlings tref, knik instemmend soos een na die ander roubeklaer die netjiese huisie intou om te simpatiseer.
Terwyl Freddie 'n foto van Sias uithaal, sê iemand, "Ja, so sal ons hom altyd onthou. Altyd net met 'n breë glimlag."
Sias Grootboom word môre, 21 Junie begrawe. Roubeklaers kan 09:00 die huis, Mayixhalestraat 3, besoek en hy word om 10:00 vanuit die Pentecostal-kerk in Uitbreiding 6 begrawe.
Sias Grootboom (56) het geleef vir sy musiek, sy werk en sy kerk, meen 'n jarelange vriend.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'