MOSSELBAAI NUUS - Die ACVV Huis Elsjè het met leedwese afskeid geneem van 'n geliefde beheerraadslid van die sentrum wat omsien na pasiënte met Alzheimer se siekte. Marietjie Knoetze, was voorheen ook voorsitter van die beheerraad.
Sy het haar lang stryd teen kanker verloor.
Knoetze was die dogter van wyle Lou Ralie van Aswegen wat die stigters was van ACVV Huis Elsjè. Hulle het die tehuis, wat amptelik geopen het op 8 Oktober 2008, ter nagedagtenis aan hul dogter, Elsjè gestig.
Knoetze, soos haar ouers, was bekend vir haar passie vir liefdadigheid, deernis teenoor haar medemens, maar bo alles haar onbeskryflike liefde teenoor haar gesin en familie.
Haar wysheid is prysenswaardig, asook haar kennis en insig. Met 'n oopdeurbeleid kon enigeen altyd by haar aanklop vir raad en insette aangaande fondsinsamelings of ander projekte ten bate van Huis Elsjè.
Sy het as voorsitter op die beheerraad en in 'n later stadium as net lid tot op die bitter einde.
Sy was 'n regte staatmaker as dit kom by funksies en het altyd 'n vrygewige hand gehad.
"Marietjie, ons ystervrou, jou spore is diep getrap hier by Huis Elsjè, jou plekkie sal leeg wees aan tafel, maar in gees sal jy altyd ons inspirasie wees in alles wat aangepak word by Huis Elsjè."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'